1. Meng die marinade-bestanddele. Skep die vleis in ’n emalje- of plastiekbak en gooi die marinade oor. Meng dit deur, bedek met kleefplastiek en marineer oornag in die yskas.

2. Berei die kerriesous Soteer die uie in verhitte olie tot sag en deurskynend, maar nie bruin nie. Roer die kerriepoeier by, gevolg deur die gemmer, brandrissie, borrie en lourier- of suurlemoenblare. Roer dit deur en voeg die asyn geleidelik by. Roer die appelkooskonfyt by. Verwyder die sous van die hitte en laat dit afkoel. Geur met sout en swartpeper. 

3. Haal die vleis uit die yskas en dreineer. Druk dit droog met kombuispapier. Ryg die vleis, spek, uie en appelkose om die beurt op geweekte sosatiestokkies.

4. Pak die sosaties in ’n vlak emalje- of glasbak sodat hulle langs mekaar lê. Smeer die kerriesous oor, bedek dit met kleefplastiek en marineer vir 1-2 dae in die yskas.

5. Haal die sosaties uit die sous, geur dit met sout en swartpeper en braai dit vir sowat 20 minute oor matige kole tot gaar en goudbruin. Bedruip dit met die kerriesous terwyl jy braai.