Genoeg vir: 8 porsies

Bereidingstyd: 25 minute

Gaarmaaktyd: 2 uur en 40 minute

Bestanddele:

• 1 kg lamsnek

• 1 kg lamskenkels

• 15 ml olie

• 2 ml neutmuskaat

• 2 ml wonderpeper

• 7,5 ml sout

• varsgemaalde swartpeper na smaak

• 2 groot uie, gekap

• 250 ml droë witwyn

• 250 ml vleisaftreksel

• 2 naeltjies

• 1 lourierblaar

• 8 wortels, in dikkerige skywe gesny

• 1 klein koolkop, dungekerf

Roosmarynkluitjies:

• 280 g (500 ml) bruismeel

• 10 ml sout

• 15 ml varsgekapte roosmaryn

• 125 g botter

• 100 ml koue vleisaftreksel of water

1 Braai die lamsnek en lamskenkels in klein hoeveelhede oraloor goudbruin in verhitte olie in ’n groot oondkastrol. Skep die bruingebraaide vleis uit voordat jy die volgende klompie braai. Geur die gebraaide vleis met neutmuskaat, wonderpeper, sout en swartpeper.

2 Braai die uie in dieselfde kastrol oor matige hitte tot sag en glansend. Voeg die wyn en aftreksel by. Skep die vleis terug in die kastrol en voeg die naeltjies en lourierblaar by. Prut met die deksel op vir sowat 1 uur.

3 Voeg die wortels en kool by en prut totdat die vleis en groente sag is – nog sowat 1 uur. Proe en geur indien nodig. Maak ook seker dat daar nog genoeg vloeistof in die kastrol is. Bring weer tot kookpunt.

4 Berei die kluitjies Sif die bruismeel en sout saam. Voeg die roosmaryn by. Rasper die botter oor en vryf dit saam totdat die mengsel soos growwe broodkrummels lyk. Voeg die aftreksel by en meng liggies tot ’n sagte deeg. Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit tot ’n vierkant van 125 x 125 mm en sny dit in 12 ewe groot blokkies. Rol elke deegblokkie in ’n bolletjie en plaas dit in die kastrol. Bedek en stoom vir sowat 40 minute tot gaar. Moenie die deksel oplig en loer nie.

TUIS/HOME