1 Verhit die olie in ’n groot pot en braai die vleis tot oraloor mooi bruin en geseël. Geur met die vleisspeserye, neutmuskaat, asyn, sout en peper. Skep uit en braai nou die uie en knoffel stadig tot glansend. Voeg die vleisaftreksel by die pot en skep die vleis terug. Voeg ook die lourierblaar by, bring tot kookpunt en draai dan die hitte na medium en laat prut vir 1½ uur of tot die vleis begin sag word.

2 Voeg die waterblommetjies en aartappels by en laat prut nog 1 uur oor lae hitte of tot die groente sag is, maar nie pap nie. Hou die vloeistof dop en vul aan met ’n bietjie kookwater indien dit nodig lyk, maar onthou, jy wil nie sop maak nie.

3 Geur met die suurlemoensap en vars kruie, proe of die pot sout en peper kort en sit stomend warm voor met rys.

Wenk As waterblommetjies nie beskikbaar is nie, kan jy dit gerus met gesnipperde groenboontjies vervang.

[REG VIR DIE POT]

Waterblommetjies se groeiseisoen strek van Mei tot November. Indien dit die eerste keer is dat jy dit gaarmaak, berei dit só voor:

• As dit ’n groot blomkop is, breek die voorste twee blare by die basis af. Dié blare sukkel gewoonlik om sag te kook.

• Breek daarna die waterblommetjies in 4 tot 6 kleiner stukke, afhangend van hoe groot die kop is.

• Sit dit in ’n groot bak, tap dit vol water en gooi ’n halwe koppie sout by. Laat staan vir sowat ’n halfuur tot ’n uur sodat enige goggatjies tussen die blommetjies kan uitkruip. Spoel af en blansjeer deur dit in kookwater te dompel om enige wilde smaak te verwyder. Nou is dit reg vir die pot!