Genoeg vir: 1 tert
Bereidingstyd: 20 minute

Kors

  • 1 pakkie Mariebeskuitjies
  • 45 ml botter (nie margarien nie)

Vulsel

  • 500 ml maaskaas
  • 250 ml room
  • 250 ml suiker
  • die sap van 1 lemoen of 2 suurlemoene
  • 15 ml gelatien
  • vars vrugte vir versiering

1. Maak eers die kors Druk die beskuitjies fyn. Smelt die botter en meng dit met die fyngedrukte beskuitjies. Druk die mengsel op die bodem en teen die kante van ’n ronde tertbak vas.

2. Maak nou die vulsel Meng die maaskaas, room en suiker en klits goed. Verhit nou die sap en los die gelatien daarin op. Klits dit by die maaskaasmengsel. Skep die vulsel in die voorbereide kors en sit die tert in die yskas om te stol. Rangskik vars vrugte (aarbeie, gerasperde pynappel of dun skyfies mango of kiwivrug) óf geblikte gemengde vrugte op die tert vir versiering. Speel gerus met die versiering – kyk wat jy in die huis het en gee jou kreatiwiteit vrye teuels.

Wenk
As jy nie ’n ronde tertbak het nie, kan jy ’n koekpan gebruik – voer dit met kleefpapier uit. Sit die tert uitgekeer op ’n mooi koekstaander voor vir effek.