Onthou: groter garnale is duurder as kleineres.

Genoeg vir: twee porsies

  • 400–500 g heel garnale (kies die grootte volgens jou begroting)
  • 1–2 klein rissies, steeltjies verwyder
  • 1 duimgroot stuk gemmerwortel, geskil en in stukke gesny
  • 2–3 knoffelhuisies, geskil
  • ’n stewige knippie sout en peper
  • ¼ koppie ekstrasuiwer olyfolie (plus ekstra vir bediening)
  • 250 g pasta (spaghetti/linguini)
  • sap en skil en 1 suurlemoen
  • ’n hand vol vars kruie (koljander/pietersielie), gekap
  • ¼ koppie gerasperde parmesaankaas

So maak jy ...

  1. Maak seker die garnale is heeltemal ontdooi. Spoel dit af met koue water.
  2. Gebruik ’n skêr om die agterkant van die stert van die middel na die punt oop te knip. Verwyder die dermpie.
  3. Sit die rissies, gemmer, knoffel, sout, peper en olyfolie in ’n voedselverwerker. Verwerk tot dit ’n loperige pasta is, en skep dit in ’n braaipan.
  4. Braai die garnale in die knoffelpasta oor hoë hitte aan albei kante tot pienk en gaar (sowat 5–8 minute). Roer gereeld dat die koffelpasta nie brand nie. Verwyder die pan van die hitte.
  5. Kook die pasta volgens die aanwysings op die verpakking. Wanneer dit net-net gaar is, dreineer en gooi dit dan in die pan met die garnale.
  6. Sit die pan weer op die hitte en roer goed. Voeg die suurlemoensap en -skil by, asook die kruie en parmesaankaas. Sit dadelik voor met ekstra olyfolie.