As jy nie hou van mikrogolf-kookkuns nie, kan jy dit maklik in ’n kastrol op die stoof maak. Onthou net om aanhoudend te roer sodat dit nie brand nie.

1. Smelt die botter, kondensmelk, melk en die suikers saam in ’n mikrogolfbestande bak met hoë kante deur dit vir 2 tot 3 minute saam op hoog te mikrogolf. (Die fudge borrel hoog tydens die kokery en as die bak te vlak is, sal dit oorkook.) Haal uit die oond en roer goed deur.

2. Kook nou vir 2 minute op ’n slag, vyf tot ses keer ná mekaar – roer goed ná elke 2 minute. Die kleur sal stelselmatig donkerder word en die mengsel dikker. Die kleur sal jou ’n aanduiding gee dat die fudge reg is. Die sterkte van jou mikrogolfoond kan die kooktyd beïnvloed.

3. Voeg nou die vanielje en sout by en klop driftig vir ’n paar minute met ’n houtlepel. Dié stap is belangrik, anders sal die fudge nie goed stol nie. Die kleur sal dowwer raak en dit sal van die bak se kante af wegtrek. Roer ’n derde van die malvalekkers by die fudge, gooi ’n derde van die malvalekkers onder in ’n vierkantige pan wat met bakpapier uitgevoer is en hou die laaste derde om bo-oor te strooi.

4. Giet nou die fudge in die voorbereide pan en maak die bokant gelyk. Strooi die laaste malvalekkers bo-oor en laat afkoel. Dit sorg dat van die malvalekkers smelt en dat daar heerlike variasie in die tekstuur is.

5. Sny die fudge met ’n skerp mes in blokkies. Hou in ’n lugdigte houer in die yskas – dis perfek vir ’n snoephappie of as geskenk vir iemand spesiaals.