Kos wat met bene berei word is goed vir spysvertering en verlig allerhande kwale en gewrigspyne; dit bevorder ook gesonde hare, vel en naels. Hier is ’n basisresep vir ’n ryk vleisaftreksel wat jy net so kan eet of kan opdollie tot ’n vullende maaltyd.

1. Voorverhit die oond tot 220 °C en rooster die bene, vleis en groente saam vir sowat 20 minute tot goed bruin en gekaramelliseer. Jy kan die groente ook in ’n riffelpan kleur gee – dit dra alles by tot die sop se geur.

2. Keer nou die roosterpan se inhoud uit in ’n groot pot en bedek met die water. Voeg die tamatiepasta, speserye, kruie en asyn by en bring tot kookpunt. Draai die hitte af tot laag en laat prut met die deksel op ’n skrefie oop vir minstens 8 uur. Skep enige skuim af wat bo-op vorm en gooi weg. Die dieetkundige Sally-Ann Creed kook haar sop vir 24 uur – besluit self. As jy wil, kan jy van die vet afskep en in die yskas hou om groente in te braai pleks van botter.

3. Giet die sop deur ’n sif – die dun kragsop is heerlik net so met ’n bietjie sout en peper. 

Variasie
Vlok enige vleis van die stowebene af en voeg dit by die sop. Roer ’n blik gekapte tamaties, ’n hand vol spinasieblare en van die behoue groente by. Sit voor met ’n murgbeen of twee per porsie. As jy, soos ek, nie skrik vir ’n bietjie meel nie, maak kluitjies met fyn biltong daarin om hierby te geniet. Jy kan natuurlik ook ekstra geroerbraaide groente soos murgpampoentjies, fyn kool of net waarvan jy hou, byvoeg.