1 Sit ’n groot pot soutwater op die stoof vir die pasta en bring dit tot kookpunt. Jou tydsberekening is belangrik, want jy het van die pastawater nodig vir die sous.

2 Smelt die botter en olie saam in ’n groot pan oor matige hitte en braai die spekblokkies mooi bruin. Roer die salami en ham by en braai vir nog ’n paar minute; verwyder dan vir eers van die hitte.

3 Kook nou die pasta tot al dente (gewoonlik 8 minute; raadpleeg die verpakking). Gebruik ’n mengbak wat groot genoeg is om al die pasta te akkommodeer en klits solank die eiergele, kaas (hou ’n bietjie vir bo-oor strooi as jy wil) en pietersielie saam. Sodra die pasta reg is, skep dit nat-nat by die pangebraaide vleis en skud. Keer die geurige pasta uit in die mengbak met die eiergele en skud-skud weer tot alles mooi gemeng is.

Skep op in vier diep pastaborde. Maak seker elkeen kry ’n repie ham bo-op en sit dadelik warm voor (dié outjie hou nie van herverhit nie). Vars basilieblare en varsgemaalde swartpeper sal die ryk sous balanseer.