1 Maak die sousie deur die sojasous, sesamolie en heuning te meng. Hou eenkant.

2 Neem ’n skerp mes of kombuisskêr en verwyder die swoerd, asook van die vet sodat net daar net ’n 1 cm-lagie op die tjops oorbly. Kap die afgesnyde vet in blokkies en knip ook die swoerd in klein blokkies.

3 Verhit nou ’n pan en braai die blokkies vet stadig uit. Sodra daar ’n goeie poeletjie in die pan is, braai die blokkies swoerd bros. Geur met ’n ruim knyp seesout. Skep die bros blokkies uit, maar behou die vet.

4 Geur die vleis alkante met sout en swartpeper. Braai die tjops vetkant eerste (’n knyptang werk goed om die tjops regop te hou). Sodra die vet goeie kleur het, braai die vleis vir 2 minute aan ’n kant. Hou ’n spaan byderhand om die tjops plat te druk sodat dit nie opkrul nie en die vleis oraloor lekker kleur kry; draai soos nodig tot die tjops vir sowat 8 minute gebraai het. Gebruik jou oordeel en laat die dikte van jou tjops die gaarmaaktyd bepaal.

5 Verf nou die tjops ruim met die bedruipsous en braai nog ’n minuut of wat aan elke kant tot goed gekaramelliseer. Strooi die sesamsaad oor en verwyder van die hitte. Laat die vleis vir ’n paar minute rus.

Wenk: Sit voor met kimchi-noedels en groen roerbraaigroente; kapokaartappels en broccoli of blomkool; of kies langkorrelrys, ’n gebraaide eier en koolslaai. Speel gerus met jou kombinasies!