Genoeg vir 8

Bereidingstyd: 35 minute

Gaarmaaktyd: 3 uur

Bestanddele

• 1kg beesvleisblokkies

• 30ml meel

• 30ml olie

• 3 uie, gekap

• 2 wortels, in groot stukke gesny

• 1 groen soetrissie, in blokke gesny

• 3 knoffelhuisies, gekap

• 30ml paprika

• 5ml gerookte paprika

• 5ml droë rissievlokkies

• 2,5ml heel karwysaad

• 2 lourierblare

• 250ml rooiwyn

• 1 x 400g-blik tamaties

• 250ml beesvleisaftreksel

• 600g baba-aartappels of groot aartappels in blokke gesny

• ’n hand vol vars Italiaanse pietersielie, gekap

KLUITJIES

• 750ml (420g) bruismeel

• 2ml rooipeper

• 270ml melk

• 100ml gesmelte botter

So maak jy ...

1 Rol die vleis in die meel. Braai nou in sarsies in die olie tot goudbruin, en skep uit. Dit neem ’n tydjie, maar dit maak die geur van die bredie soveel ryker. Sodra al die vleis bruin is, braai die uie, wortels, soetrissie, knoffel en speserye vlugtig saam in dieselfde pot. Giet die rooiwyn by en skraap al die bruin deeltjies van die bodem los en laat prut vir ’n minuut. Skep die vleis terug in die pot en voeg die tamaties en aftreksel by. Sit die deksel op en laat prut oor matige hitte vir minstens 2 uur.

2 Kook die aartappels in ’n aparte pot tot amper sag. Skep dit by die bredie en kook vir nog 30 minute. Die vleis behoort nou lekker sag te wees. Vul die bredie se sous aan met aftreksel as dit droog begin lyk – dit moet genoeg sous hê dat die kluitjies vir nog 30 minute kan stoom.

3 Maak die kluitjies Sif die meel en rooipeper saam. Roer die melk en botter by tot ’n sagte deeg vorm – moet dit nie oorwerk nie; minder hantering is beter (net soos met skondeeg). Druk die deeg liggies met jou vingerpunte op ’n meelbestrooide oppervlak uit tot dit sowat 2 cm dik is en sny dit in 18 ewe groot blokkies. Rol elke deegblokkie in ’n balletjie.

4 Pak die kluitjies bo-op die vleismengsel, sit die deksel op – maak seker dit sluit dig – en laat stoom die kluitjies sowat 30 minute tot gaar. Probeer om nie die deksel op te lig en te loer nie!

Kyk hier hoe om die kluitjies te maak