Basiese brooddeeg

  • 2 x 10 g-pakkies kitsgis
  • sowat 600 ml louwarm water
  • 1 kg koekmeel
  • 30 ml suiker
  • 10-15 ml sout
  • 60 ml olyfolie

Sit die meel, gis, suiker en sout saam in ’n mengbak en maak ’n holte in die middel met jou hand. Voeg die water en die olie by. Laat staan op ’n warm plek vir sowat 15-20 minute of tot die mengsel borrels op die oppervlak maak (dié stap is opsioneel, maar verbeter die geur van die brood). Meng die meel nou stadig, bietjie vir bietjie, met ’n sirkelbeweging van buite na binne by tot die deeg te styf is om verder te roer. Keer dit uit op ’n skoon werkoppervlak en knie tot glad soos ’n baba se boudjies (sowat 10 minute). Sit die deeg in ’n skoon, meelbestrooide mengbak, bedek dit met ’n lap of kleefplastiek en laat staan dit op ’n warm plek om te rys tot dubbel die volume (sowat 1 uur). Knie die deeg af – nou is jy reg om dit te vorm soos wat jy wil.

pizzahorinkies-web 

Vir pizza-horinkies

  • ’n groot bal brooddeeg
  • pesto
  • salami
  • mozzarella

1. Maak sowat 12 roomhorinkievorms (ek het myne by The Crazy Store gekoop) staan met behulp van foelie op ’n bakplaat en spuit met kleefwerende kossproei.

2. Rol nou die brooddeeg plat uit in ’n groot sirkel op ’n meelbestrooide oppervlak. Sny in stroke van sowat 2 cm breed en 35 cm lank. Draai nou die deegstroke een-een buite om roomhorinkievorms. Begin by die punt; die stroke moet amper oorvleuel; probeer dit so eweredig as moontlik hou. Druk met jou hand die deeg gelyk sodat daar geen gleufies tussen die deeg is nie. Bak in ’n voorverhitte oond teen 180°C vir 8-10 minute tot gaar.

3. Haal die horinkies van die vorms af en vul met pizza bestanddele – ons het pesto, salami en mozzarella gebruik maar speel gerus met jou gunstelinge soos spek en sampioene of pynappel en ham ook. Gebruik ’n broodpannetjie om die gevulde horinkies regop te hou en bak vir nog 8-10 minute tot die kaas gesmelt is. Smul dadelik tewyl dit nog lekker warm is.

So maak jy:

https://www.youtube.com/watch?v=FTSzvm33btk&feature=youtu.be