Genoeg vir: 6–8 porsies
Bereidingstyd: 45 minute
Oondtemperatuur: 150 °C
Baktyd: 1 uur

  • 4 ekstragroot eierwitte
  • 200 g strooisuiker
  • knippie sout
  • 100 g haselneute
  • 200 g donkersjokolade (verkieslik 70%-sjokolade)
  • 500 ml room
  • 60 ml versiersuiker
  • 1 vanieljepeul, gehalveer, saadjies uitgeskraap
  • 500 g rooiryp aarbeie, gesny

1. Voorverhit die oond. Voer ’n bakplaat (40 x 25 cm) met ’n vel bakpapier uit. Plaas die eierwitte in ’n skoon mengbak en klits dit tot stywe punte vorm. Voeg die strooisuiker en knippie sout geleidelik by terwyl die klitser nog werk. Hou aan met klits totdat die meringue wit en glansend is.

2. Smeer die meringue op die bakpapier uit – gebruik die agterkant van ’n lepel om dit in ’n reghoek te vorm. Maak draaie met die lepel terwyl jy smeer, sodat dit nie so solied en plat is nie, maar ’n bietjie tekstuur kry. Plaas die meringue in ’n voorverhitte oond en bak dit vir sowat ’n uur of tot bros aan die buitekant en nog effens sag binne. Plaas die haselneute terselfdertyd op ’n bakplaat in dieselfde oond en rooster hulle totdat hulle goudbruin is. Vryf die skilletjies af en kap hulle grofweg.

3. Smelt die sjokolade met 100 ml room tot ’n ganache en hou eenkant. Klits die oorblywende room saam met die versiersuiker en vanieljesaadjies totdat dit sagte punte vorm.

4. Om voor te sit Drup die ganache oor die meringue. Skep die room bo-op, gevolg deur die aarbeie, en sprinkel die haselneute oor. Versier met sjokoladesterre.

Wynvoorstel: Sit klein glasies edellaatoesdessertwyn saam met dié dromerige nagereg voor. Of bedien ’n gefortifiseerde wyn of likeur ná die nagereg saam met koffie om die maaltyd af te rond.

OM SJOKOLADESTERRE TE MAAK

Smelt sjokolade en skep dit in ’n spuitsak. Gebruik die spuitsak om sjokoladesterre op bakpapier te spuit. Sprinkel silwer balletjies oor en laat staan tot dit hard is. Trek die sjokoladesterre versigtig van die bakpapier af.

Wenke
  • Klits 500 ml room en skep dit bo-op die meringuedop. Sprinkel nou vrugte bo-oor. Vrugte soos aarbeie en nektariens werk goed saam. Frambose, kiwivrug en papaja is ook ’n goeie keuse, en nog ’n gunsteling is grenadellapulp en piesangskyfies.
  • Plaas 125 ml crème de cassis, die sap van ’n lemoen en 30 ml rooiaalbessiekonfyt in ’n kastrolletjie. Kook vir sowat 2minute tot stroperig. Laat dit afkoel en voeg 200 g frambose, asook gesnyde perskeskyfies, by. Bedek en plaas in die yskas. Skep dit bo-op die geklitste room op die meringuedop.
  • Vou 100 g elk gekapte dadels en okkerneute in die meringue voordat jy dit bak. Vul die gebake meringuedop met sjokoladeganache en room.
  • Meng amandelvlokkies of pralien in die meringue voordat jy dit bak.