1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer die holtes van ’n gewone muffinpan mildelik met botter. Knip 24 repe bakpapier, 1 cm breed, en plaas twee oorkruis in elke holte. Dit gaan help om die gaar rosies uit te lig.

2. Was die aartappels goed, maar dis nie nodig om hulle te skil nie. Gebruik ’n baie skerp mes of ’n mandolien en sny ’n kwart van die aartappels (sowat 250 g) in baie dun skyfies (sowat 1 mm dik) oor die breedte. Die grootte van die aartappels en die dikte van die skyfies gaan bepaal hoe delikaat jou rosies is. Sprinkel nou die gesnyde skyfies met sout, peper en neutmuskaat en sprinkel van die parmesaan oor. Meng goed deur.

3. Stel saam Rol die eerste skyfie aartappel in ’n dun sigaartjie op – dit is die binnekant van die roos. Pak nou blaartjies rondom tot jy ’n mooi roosknop in jou vingerpunte het. Sit dit versigtig op die bakpapierkruis in die muffinpan. Pak nou versigtig nog blaartjies rondom totdat die holte vol is en die blom volledig lyk. Dit is belangrik om die aartappelblaartjies styf in te pak, anders gaan die blom nie sy vorm behou nadat dit gebak is nie. Dis ook belangrik dat daar ’n goeie verspreiding kaas tussen die lagies is. Herhaal nou met die res van die gesnyde aartappels. Sny dan die res van die aartappels en herhaal totdat die pannetjie vol is. Die rede hoekom jy nie al die aartappels aan die begin sny nie, is dat dit kan oksideer en verkleur.

4. Skep nou lepel vir lepel room bo-oor die rosies. Laat genoeg tyd vir die room om deur die lagies te syfer voor jy nog byvoeg. Skep jy te veel, gaan dit oorkook; skep jy te min, gaan die aartappels droog bak. Daar behoort plek vir twee eetlepels room per roos te wees. Bak vir 1 uur tot die aartappels sag en goudbruin bo is. Indien jy ná 45 minute bang is dit bak te donker, bedek die pan vir die laaste 15 minute met foelie. Laat effens afkoel en lig elke roos met behulp van die bakpapier uit die holtes. Tog te mooi!