1 Maak seker al die senings is van die filet verwyder en sny dit dan in vier ewe groot stukke. Vryf die vleis oraloor in met die olie. Verhit ’n pan tot warm en braai die vleis tot goudbruin. Moenie te gou begin draai nie; laat dit ’n goeie kors ontwikkel en nie stoom nie.

2 Voeg dan die sojasous, vissous, sesamsaad en 60 ml kookwater by die pan, sit die deksel op en laat stoom tot die vleis gaar is (sowat 5 minute). Verwyder van die hitte en laat afkoel tot hanteerbaar.

3 Vlok die vleis. Proe ’n stukkie en besluit of dit nog ’n bietjie sojasous en sesamolie kort om die vleis geurig en sappig te maak. Kry ook al die ander vulselbestanddele gereed.

4 Om die ryspapier sag te maak, giet warm water 2 cm diep in ’n plat bak waarin die ryspapier pas en week een velletjie op ’n slag vir 15–20 sekondes. Verwyder versigtig sonder dat dit frommel en sit dit op ’n skoon werkoppervlak neer.

5 Rangskik 3 skyfies radys in die middel van die geweekte ryspapier, met twee eetbare blommetjies bo-op. Voeg nou ’n hopie geurige vark by en dan ’n paar wortelstokkies en ’n strooisel kruieblaartjies. Vou die ryspapier links en regs oor die vulselente en rol op in ’n sigaarvorm. Herhaal met die res van die papier en vulsel. Sit die rolletjies voor met ’n pikante doopsous soos tuisgemaakte rissiesous, sojasous gedokter met brandrissie en gemmer, of pruimsous.