Oondtemperatuur: 180°C

1 Berei die deeg deur die meel, kakao, suiker, bakpoeier en sout saam te sif. Vryf die botter by die mengsel in totdat dit soos growwe broodkrummels lyk (of gebruik jou voedselverwerker). Meng die eier en eiergeel by, asook genoeg van die yswater om ’n lekker hanteerbare deeg te maak. Knie liggies tot glad. Vorm die deeg in ’n plat skyf, sit dit in ’n lugdigte houer en laat rus vir 30 minute in die yskas.

2 Rol dan die deeg sowat 3 mm dik uit op ’n meelbestrooide oppervlak. Druk deegsirkels uit wat in die holtes van ’n vlak muffinpan sal pas en voer die holtes daarmee uit. Voorverhit die oond.

3 Vir die vulsel en bolaag, klits die eierwitte totdat dit sagte punte vorm en klits die suiker lepel vir lepel by totdat die mengsel blink en styf is. Roer die klapper en bakpoeier by tot net gemeng.

4 Rol sowat 1 teelepel konfyt op ’n slag in die ekstra meel sodat dit ’n lagie om die konfyt vorm, en sit een konfytballetjie in elke tertdoppie. Skep die eierwitmengsel bo-op en bak vir sowat 20–25 minute tot gaar en goudbruin. Haal versigtig uit die pannetjies en laat afkoel op ’n draadrakkie.