Genoeg vir: sowat 22
Bereidingstyd: 20 minute, plus 2 uur rustyd in die yskas
Oondtemperatuur: 180 °C
Baktyd: 8-10 minute

  • 500 ml (260 g) versiersuiker, gesif
  • 200 g gemaalde amandels
  • 1 eier
  • 1 ml amandelgeursel
  • 100 g donkersjokolade, gekap
  • 125 ml room

1. Meng die versiersuiker, amandels, eier en amandelgeursel tot ’n stewige deegbal. Draai dit toe in kleefplastiek en sit dit in die yskas vir sowat 2 uur.

2. Voorverhit die oond. Haal die deeg uit die yskas en rol dit uit tussen twee lae bakpapier wat met versiersuiker besprinkel is. Rol die deeg uit tot sowat 3 mm dik, en druk hartjies uit die deeg met ’n hartvormige koekiedrukker. Plaas die deeghartjies op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is. Bak vir sowat 8-10 minute of tot gaar en ligbruin. Verwyder dit uit die oond en laat afkoel.

3. Verhit die sjokolade en room saam totdat die sjokolade gesmelt is en verwyder dit van die hitte. Laat staan tot die sjokolademengsel dik en smeerbaar is. Smeer die sjokolade op die helfte van die hartjies en plak toe met die ander helfte van die koekies. Sif ekstra versiersuiker oor en sit voor.