1 Meng die droë bestanddele. Klits die lou water, olie en eiers saam en meng dit met die droë bestanddele tot ’n sagte, hanteerbare deeg. Knie goed, totdat die anyssaad wil loskom van die deeg. Laat die deeg rys totdat dit in grootte verdubbel het.

2 Knie af en rol die deeg 2cm dik uit. Sny die deeg eers in repe van sowat 4 cm breed, en sny dan elke reep dwars om diamantvormige stukkies te vorm. Bedek die deegdiamante met gesmeerde plastiek en laat dit rys tot dit in grootte verdubbel het.

3 Maak genoeg olie vir diepbraai goed warm en braai die deegdiamante daarin tot goudbruin aan weerskante. Dreineer dit op kombuispapier.

Wenk As die deeg (stap 1) te styf is, kan jy nog ’n bietjie water byvoeg

Maréza vertel:
“My ma het ’n slag met deeg en bak die perfekte skuinskoek. Tydens koue wintervakansies op die plaas, wanneer daardie varsgebakte skuinskoek so met die skuimspaan uit die olie geskep word, het jy skelm een gegryp en weggehol terwyl jy dit in die lug op gegooi sodat jou hande nie brand nie! ’n Pakkie skuinskoek was ook altyd die ideale peuselhappie vir ’n honger koshuiskind! Die ander lekkerte op die plaas was die vars skilpadjies (skaaplewer in netvet) wat Pa Sondagmiddae vir ons gebraai het. Dis dus g’n wonder dat ons plaasjapies se cholesterol so hoog is nie; my pa hou egter vol dat skaapvet maar net die are van binne smeer!”