Genoeg vir: 8 porsies
Bereidingstyd: 45 minute
Gaarmaaktyd: 20 minute vir aartappels en slaaisous saam

  • 500 g baba-aartappels, gehalveer
  • 500 g wit sampioene, skoongevee en gehalveer
  • 2 blikke (410 g elk) artisjokke, gedreineer en gehalveer
  • 1 rooi ui, in dun ringe gesny

SLAAISOUS

  • 5 ml sout
  • 15 ml komynsaad, gerooster
  • 200 ml rooiwynasyn
  • 250 ml olyfolie (of gebruik die helfte olyfolie en die helfte kanola-olie)
  • 4 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 125 ml italiaanse pietersielie, gekap
  • 125 ml koljander, gekap

1. Kook die baba-aartappels in ’n bietjie soutwater tot net-net gaar. Jy kan die aartappels afskil óf dit met skil en al halveer. Ek verkies om dit nie af te skil nie, want dis gesonder so en lyk ook mooier.

2. Maak solank die slaaisous terwyl die aartappels kook. Verhit die sout, komyn en asyn in ’n kastrol tot kookpunt. Laat dit inkook totdat daar sowat 60 ml oorbly, haal van die stoof af en laat dit effens afkoel. Meng die olie en knoffel by en klits goed. Giet dit bo oor die gaar, gehalveerde aartappels en meng deur.

3. Roer die sampioene, artisjokke en kruie by. Bedek dit met kleefplastiek en laat dit verkieslik oornag in die yskas staan sodat die geure kan meng. Haal die slaai betyds uit die yskas sodat dit voor etenstyd kamertemperatuur kan bereik. Sprinkel rooi uie oor en sit voor.