1. Klits al die marinadebestanddele saam en meng dit deur die varkvleis; marineer dit dan vir minstens ’n uur in die yskas. Haal uit en laat die vleis kamertemperatuur bereik voor dit gaargemaak word.

2. Meng die droë bestanddele vir die beslag en klits die gaskoeldrank geleidelik by tot net gemeng.

3. Dreineer die gemarineerde varkvleis en besprinkel dit met mielieblom. Verhit 750 ml olie in jou wok – toets die hitte met ’n druppel beslag (dit moet dadelik borrel en nie sink nie, maar ook niete vinnig verbruin nie).Doop nou ’n paar blokkies op ’n slag in die beslag en braai tot goudbruin. Dreineer op kombuispapier en herhaal tot al die vleis gebraai is.

Sit voor met ’n soetsuur sousie en rys of noedels. 

Wok-roerbraai 101
  • Voorverhit die wok voor jy enige olie byvoeg. Toets die oppervlak met ’n druppel water as jy onseker is – dit moet dadelik verdamp.
  • Kies ’n olie met ’n hoë rookpunt soos kanola-, grondboontjie- of avokado-olie.
  • Geur die olie. Uie, knoffel, gemmer en brandrissie is maar ’n paar voorbeelde van bestanddele wat roerbraaigeregte woema gee.
  • Maak seker al die brokkies wat saam gebraai word, is ewe groot sodat dit eweredig gaar word.
  • Moenie die wok oorlaai nie, anders stoom die kos, pleks van te braai. Volg dieselfde beginsel as jy jou roerbraai in ‘n pan maak.
  • Hou fyn dop en roer aanhoudend met ’n spaan sodat niks vasbrand nie.
  • Rond altyd af met ’n skeut vars lemmetjie- of suurlemoensap en ’n sprinkel kruie soos vars koljander of basilie.