Klits die kondensmelk en room saam tot dik. Meng die sout by en skep in ’n geskikte houer vir vries. Vries tot hard, maar nie kliphard nie. So maklik soos dit! Die oorspronklike resep gebruik dubbeldik room (beskikbaar by Woolworths) maar ek vind die gewone klitsroom werk net so goed en gee ’n effens ligter roomys.

HOE KOOK EK KONDENSMELK?
Sit ’n vadoek onderin die kastrol waarin jy dit kook (dit keer dat die blikke onnodig teen die bodem kap terwyl dit kook). Sit die blik in die kastrol, bedek met water en bring tot kookpunt. Draai die hitte af tot laag sodat dit net-net prut, sit die deksel op (dit keer oormatige verdamping) en laat prut vir sowat 2 uur. Laat die kondensmelk in die water afkoel en moenie oopmaak voordat dit heeltemal koud is nie. Loer af en toe terwyl die blik kook en vul die water aan om seker te maak dit bly bedek, anders kan dit ontplof.