Genoeg vir: 6 porsies

Bereidingstyd: 15 minute plus droogtyd

Gaarmaaktyd: 1 uur in die pot plus braaityd

Bestanddele

• 20 ml bruinsuiker

• 200 ml growwe sout

• 2 ml salpeter

• 50 ml geskroeide koljandersaad

• 20 ml bruin asyn

• 1 skaaprib van sowat 1,5 kg

So maak jy

1 Meng die suiker, sout, salpeter, koljander en asyn en vryf dit in die vleis in. Plaas die rib in ’n glas- of emaljeskottel, bedek dit en sit dit vir 2–3 dae in die yskas. Draai dit soggens en saans om.

2 Hang die vleis nou in ’n koel, lugtige plek op waar dit winddroog kan word (jy kan die proses versnel deur die ribbetjie op ’n afkoelrakkie voor ’n waaier te laat staan). As jy die rib wil bêre, moet dit droog wees – amper soos biltong – maar as jy dit gaan gaarmaak, is dit nie nodig om dit heeltemal uit te droog nie.

3 Spoel die droë ribbetjie af en sit dit in ’n groot kastrol (as dit te groot is vir jou pot, sny dit in die helfte deur). Bedek die rib heeltemal met water en bring dit tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat prut vir sowat 1 uur. Haal die rib uit die vloeistof en laat dit afkoel.

4 Druk die vleis droog met kombuispapier en rooster die ribbetjie oor matige, stadige kole tot goudbruin en gaar. Sny in porsies en sit voor.

Wenke

• As die vleis deur die borsbeen (die dik been aan die ronde kant) gesaag is, is dit makliker om in porsies te sny. Vra jou slagter om jou hiermee te help.

• ’n Diamantpatroon wat deur die vetlaag gesny is, sal help dat die vleis vinniger uitdroog.

• Om geskroeide koljandersaad te maak, roerbraai die heel koljandersaad in ’n swaarboompan oor matige hitte totdat jy ’n matig sterk koljandergeur kan ruik. Maal dit daarna fyn of stamp dit fyn in ’n vysel. Skud dit deur ’n teesiffie om die harde doppe te skei.

• Salpeter verskaf ’n mooi pienk kleur. Jy kan dit weglaat as jy wil.

• Jy kan ook ’n bietjie fyngemaalde wonderpeper byvoeg vir ekstra geur.

• Die uitgedroogde soutribbetjie is ideaal om saam te neem as jy gaan kamp.