Genoeg vir: ± 8 pannekoeke

Bereidingstyd: 35 minute

Gaarmaaktyd: 30 minute

Bestanddele

• 300 g spinasie, goed gewas

• 30 ml botter

• 30 ml meel

• 250 ml warm melk

• 250 ml kaas (cheddar, feta of camembert)

• 2 eiers

• 120 g meel

• 300 ml melk

• 50 ml olie, plus nog vir braai

So maak jy

1 Sny die spinasie se are uit, kap dit fyn en braai dit in die botter tot sag. Roer die 30 ml meel by en braai vir nog 30 sekondes. Klits die 250 ml melk by en kook tot ’n dik sous. Geur met sout, peper en neutmuskaat. Blansjeer die blare en kap fyn. Roer dit by die sous en kook deur. Verwyder van die hitte en roer die kaas by. Hou eenkant.

2 Klits die eiers, 120 g meel, 300 ml melk en 50 ml olie saam, en geur. Verhit ’n pan tot warm, voeg ’n bietjie olie by en skep ’n soplepel beslag in die pan; kantel dit om die hele bodem met beslag te bedek. Braai elke pannekoek vir ’n minuut of twee aan elke kant. Herhaal tot al die beslag op is. Vul die pannekoeke met die spinasiemengsel en sit dit voor met ’n vars slaai en ertjies.