1 Meng die meel en sout en roer die water geleidelik by met ’n vurk totdat die deeg te dik is om te roer. Keer dit uit op ’n skoon werkoppervlak en knie driftig vir sowat 5 minute of tot glad en elasties. As die deeg te klewerig is na jou sin, voeg ’n bietjie ekstra meel by. Vorm die gladde, elastiese deeg in ’n netjiese bal, sit dit in ’n mengbak wat met ’n bietjie olie gesmeer is en laat rus vir 1 uur onder ’n klam vadoek.

2 Verdeel dan die deeg in 8 gelyke dele en werk met een op ’n slag. Rol die deeg so dun moontlik uit in ’n naastenby reghoekige vorm. Verf ’n lagie sesamolie oor met ’n kwassie en strooi dan ’n bietjie gekapte sprietui en sesamsaad oor. Rol nou die deeg in die lengte ligweg op in ’n lang strook; rol dié dan in ’n spiraal en plaas eenkant. Herhaal met die res van die deeg. 

3 Olie jou werkoppervlak liggies en rol die spirale een vir een so dun moontlik uit in ’n ronde pannekoek. Een of twee klein skeurtjies in die oppervlak is nie die einde van die wêreld nie, maar probeer die pannekoek so eweredig moontlik hou. Die pannekoekies moet effens aan die werk-oppervlak vaskleef sodat dit kan rek, so moenie uit die staanspoor te veel olie gebruik nie.

4 Verhit ’n kleefwerende pan tot lekker warm en braai die pannekoeke een vir een tot alkante goudbruin en effens opgepof. Sit warm voor met ’n vulsel soos varklies met Chinese 5 speserye (kry die resep hier).