Bestanddele
- 8 hoendervlerkies
- 250 ml karringmelk
- 1 knoffelhuisie, fyngekap
- 15 ml suurlemoensap
- ’n ruim knippie sout
- 30 ml sriracha-rissiesous
- 30 ml olie
- sowat 500ml panko-broodkrummels
- 3 takkies tiemie, blaartjies gestroop
- 5 ml paprika
- SOUS
- 1 stuk romerige bloukaas, gekrummel
- 125 ml suurroom
- 60 ml mayonnaise
- 15 ml appelasyn
- 15 ml suurlemoensap
- ’n mespunt vars knoffel
- ’n bossie grasuie, geknip
Metode

1 Knip die dun puntgedeelte van die vlerkies af (gebruik dit vir aftreksel) en knip dan die res van elke vlerkie by die lit in twee. Sit al 16 vlerkiestukke saam met die karringmelk, knoffel, suurlemoensap, sout en srirachasous in ’n glasbak met ’n deksel. Marineer vir ’n uur of twee (langer as jy tyd het).
2 Voorverhit die oond (200°). Voer ’n bakplaat uit met bakpapier en smeer met 5 ml olie. Sit die broodkrummels in ’n plat bak en geur met die tiemieblaartjies en paprika; voeg ook sout en peper by. Haal nou die vlerkies een vir een uit die karringmelk en sit dit so nat moontlik in die krummels. Rol elke porsie in die rondte sodat dit ’n goeie krummellagie reg rondom kry, druk die krummels vas met jou hande en plaas dit versigtig op die voorbereide plaat. Herhaal met al 16 stukke.
3 Drup die oorblywende olie oor die vlerkies en bak vir 10 minute, draai om en bak vir nog 10 minute. Voorverhit die roosterelement en rooster verder vir5 minute aan elke kant of tot dit ’n mooi goue kleur het.
4 Vir die sous, meng die bloukaas, suurroom, mayonnaise, asyn en suurlemoensap. Geur met die knoffel, sout en peper na smaak en ’n ruim strooisel grasuie. Sit dit voor saam met die warm vlerkies. Die krummellaag is redelik delikaat en maak dit ’n heerlik dekadente vingerlek-storie om te eet!
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET