Smaaklike skaapboud is die perfekte hoofgereg vir ’n elegante uithang-aandete.

Genoeg vir: 8-10 porsies
Bereidingstyd: 45 minute
Oondtemperatuur: 160 °C
Gaarmaaktyd: 3-4 uur

Haselneutpesto

  • 100 g haselneute
  • gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
  • gerasperde skil van 1 lemoen
  • 2-3 vet knoffelhuisies, fyngekap
  • 125 ml olyfolie
  • 6 ansjovisfilette in olyfolie, gedreineer, gekap
  • 100 g geroosterde witbroodkrummels
  • 12 mentblare, gekap

Skaapboud

  • 2,5 kg skaapboud
  • olyfolie
  • 3 takkies vars roosmaryn, blare afgestroop
  • 12 vars vye, in die helfte geskeur
  • vars roketblare, met vars suurlemoensap en olyfolie bedruip

1. Berei die haselneutpesto Voorverhit die oond. Sit diehaselneute op ’n bakplaat en rooster dit vir sowat 10-15 minute. Vryf die haselneute in ’n skoon vadoek om van die skille ontslae te raak. Sit die haselneute in ’n vysel en stamp tot hulle rofweg gebreek is. Verhit die suurlemoenskil en -sap, lemoenskil, knoffel en helfte van die olyfolie in ’n klein kastrol oor lae hitte vir sowat 2 minute sodat die geure kan ontwikkel. Verwyder van die hitte en roer die ansjovis, haselneute, broodkrummels, ment en oorblywende olyfolie by. Proe, en geur met nog suurlemoensap en swartpeper, indien verkies.

2. Berei die skaapboud Skakel die oond aan op 160 °C. Verhit ’n bietjie olyfolie in ’n oondroosterpan oor hoë hitte en braai die skaapboud aan alle kante bruin om die vleis te seël. Geur met sout en swartpeper en drup nog olyfolie oor die boud. Sprinkel roosmaryn oor en bedek met foelie. Oondrooster dit vir sowat 3-4 uur of totdat die boud sag is. Verwyder uit die oond, bedek die vleis en laat rus dit op ’n warm plek vir sowat 10 minute.

3. Plaas die vye op ’n bakplaat en rooster dit in die oond vir sowat 10 minute. Sny die skaapboud in skywe en rangskik op ’n dienbord. Skep die vye oor asook die haselneutpesto en laastens die roket. Sit voor.