Dié stadiggeroosterde vark met gevulde appels sal die hoogtepunt van jou feestafel wees!

Genoeg vir: 8 porsies
Bereidingstyd: 25 minute
Oondtemperatuur: 240 °C
Gaarmaaktyd: 12 uur

  • 1 varkblad (sowat 3 kg) met ’n goeie laag vet bo-op (vra jou slagter om kepe in die vetlaag te sny)
  • gerasperde skil en sap van 2 suurlemoene
  • 30-45 ml vinkelsaad
  • 30-45 ml koljandersaad
  • 2-4 rooi brandrissies, ontpit en gekap (persoonlike smaak bepaal hoeveel jy gebruik)
  • 4 vet knoffelhuisies, gesny
  • olyfolie
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

1. Voorverhit die oond. Jy kan self die kepe in die vetlaag sny: Sny die vetlaag met ’n skerp mes in ’n diamantpatroon. Maak die insnydings sowat 1 cm diep en ook sowat 1 cm uitmekaar.

2. Plaas die suurlemoenskil, vinkelsaad, koljandersaad, brandrissies en knoffel in ’n vysel en stamp fyn. Voeg ’n bietjie olyfolie by om ’n smeer te maak en vryf dit oor die varkblad se vetlaag. Maak seker jy vryf dit in die kepe in. Drup die suurlemoensap oor.

3. Plaas die varkblad op die roosterrakkie van ’n oondroosterpan.

4. Plaas dit sowat 30 minute in die voorverhitte oond. Dié prosedure gee jou die bros varksooltjie. Haal die varkblad ná die halfuur uit die oond uit en verlaag die hitte na 120 °C.

5. Geur dit na smaak met sout en swartpeper. Plaas terug in die oond vir sowat 12 uur of totdat die vleis so sag is dat dit van die been afval. 

Wenk
Laat die vleis minstens 10 minute staan voor jy dit sny. Dit gee die vleissappe kans om weer deur die vleis te versprei. Die volgende geure komplementeer varkvleis: appel en kruie soos salie, tiemie en roosmaryn.

GEVULDE APPELS

Maak ’n appel vir elke gas.

Genoeg vir: 8 porsies
Bereidingstyd: 25 minute
Oondtemperatuur: 120 °C (saam met varkblad)
Gaarmaaktyd: 1 uur

  • 8 appels
  • 2 hande vol vars salieblare
  • 250 g swoerdlose spek, fyngekap en brosgebraai
  • 2 snye witbrood, korsies verwyder
  • 100 ml hoenderaftreksel
  • 2 vet knoffelhuisies, gekneus
  • gerasperde skil van ’n suurlemoen

1. Maak ’n horisontale insnyding rondom die appel om te voorkom dat die appel bars. Verwyder die kern van die appel.

2. Meng die oorblywende bestanddele en vul die appelholtes ruim daarmee. Plaas die appels vir die laaste uur van gaarmaaktyd langs die varkblad en bak tot sag en gaar.