Die woord laksa beteken “tienduisend” of “baie” omdat die sop so baie bestanddele bevat. Dié geurige noedelsop van Suidoos-Asië is smullekker en kan ook met hoender pleks van seekos gemaak word.

Moenie dat die lang lys bestanddele jou afskrik nie. Druk deur, want die smaak is die moeite werd. 

Genoeg vir: 6

Bereidingstyd: 30 minute

Gaarmaaktyd: 25 minute

1. Vir die speserypasta

(die pasta kan tot 3 dae in die yskas hou)

  • 3 stingels sitroengras, harde buiteblare verwyder
  • 2 rooi rissies, ontpit
  • 1 duimgroot stuk gemmer
  • 5ml garnaalpasta
  • 3 salotte, geskil en fyngekap
  • 3 groot knoffelhuisies
  • 60ml grondboontjie-olie
  • 5ml borrie
  • ’n hand vol koljanderblare
  • 60ml tamarynpasta

Sit al die bestanddele in ’n voedselverwerker en pols tot dit ’n gladde pasta vorm. Skep dit in ’n glasfles (plastiek sal verkleur) en bêre dit in die yskas tot benodig. 

2. Vir die sop

  • 30 ml grondboontjie- of olyfolie
  • 250 ml bereide speserypasta (hoeveelheid hierbo berei)
  • 1 liter groenteaftreksel
  • 60 ml nam pla of ander vissous
  • ’n hand vol koljanderblare, grofgekap
  • 200 g steurgarnale, sonder die doppe
  • 300 g lynvis, in hapgroot blokkies gesny
  • 1 groot blik klappermelk
  • ’n pakkie mediumdik rysnoedels, gaar 

Verhit die olie oor matige hitte in ’n wok of groot dikboomkastrol. Roer die speserypasta by en braai dit stadig vir so 2 minute. Moenie dat dit brand nie.

Voeg die aftreksel, vissous en kruie by en laat dit kook. Verlaag die hitte effens en kook die vis en steurgarnale tot net gaar. Voeg die klappermelk by en verhit tot deurwarm.

3. Verdeel die noedels tussen die opskepbakkies en giet die sop bo-oor. Garneer met jou keuse van bykomstighede. 

Bykomstighede

Kies soveel van die volgende as wat jy wil en skep dit bo-op die sop, of sit dit in aparte bakkies voor sodat elkeen self kan garneer:

  • boontjiespruite
  • diepgebraaide tofoe-blokkies
  • gekapte rissie
  • komkommerlinte
  • geroosterde grondboontjies
  • vars koljander- of basilieblare
  • hardgekookte eiers, middeldeur gesny 
Wat’s dit?

Garnaalpasta Die pasta ruik aaklig, maar gee ’n heerlike geur aan kos. Dis ’n belangrike bestanddeel in die kookkuns van Suidoos-Asië en word gemaak van sout en gefermenteerde garnale. Bêre die flessie in die yskas nadat jy dit oopgemaak het.

Tamarynpasta Dié pasta is die pulp rondom die saad van die tamarynpeul. Dis ’n tradisionele bestanddeel in suur Thaise sop, asook in worcester- en HP-sous

Nam pla/vissous Vissous is vir Thaise kos wat sojasous vir Chinese kos is. Dit het ’n kenmerke geur en sout smaak. In Thai beteken “Nam bplah” letterlik “viswater”: Regte vissous is die water, of sap, wat uit die visvleis onttrek word tydens ’n lang insout- of fermentasieproses.

Rysnoedels Dit is ’n pasta of noedels wat van rysgemaak word. Die vernaamste bestanddele is rysmeel en water, maar soms word tapioka of mielieblom bygevoeg om dit meer deurskynend te maak en die tekstuur te verbeter.

Tofoe Dit is sojaboonwrongel. Tofoe is taamlik smaakloos,dis sag en het ’n kaasagtige tekstuur. Dit word gemaak deur vars warm sojamelk te laat skif en dan met ’n stolmiddel te verdik. Tofoe is baie gesond

en neem gewoonlik die smaak aan van wat ook al jy daarmee saam gaarmaak.