Genoeg vir: 1 x 23 cm-tert (sowat 8 porsies)
Bereidingstyd: 45 minute
Oondtemperatuur: 180 °C
Baktyd: 20-25 minute

  • 400 g bereide broskorsdeeg
  • 50 ml olyfolie
  • 1 pakkie jong preie, in dun skyfies gesny
  • 4 vet knoffelhuisies, gekneus
  • 800 g rooi kersietamaties, gehalveer
  • ’n goeie hand vol vars basilieblare, geskeur
  • 30 ml balsemiekasyn
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 2 rolletjies bokmelkkaas
  • 1 bossie sprietuie, gekap

1. Voorverhit die oond. Rol die deeg uit en voer ’n losboompan daarmee uit. Moenie die deeg te veel te hanteer nie, want dit sal langs die kante van die tertpan inkrimp. Prik die bodem en bak die deeg blind in die voorverhitte oond.

2. Verhit die olyfolie in ’n braaipan en soteer die preie tot sag. Voeg die knoffel by en soteer nog sowat ’n minuut. Voeg die tamaties by en roer deur. Voeg die basilie, balsemiekasyn en geurmiddels by en roer tot die tamaties net-net begin gaar word. Laat afkoel.

3. Krummel die bokmelkkaas onderin die tertkors en skep die tamatievulsel bo-op. Sprinkel sprietuie bo-oor en bak weer sowat 20-25 minute. Haal dit uit die oond en sit die tert voor teen kamertemperatuur. Sny dit in skywe en sit voor met vars groen slaaiblare wat met vinaigrette aangeklam is.