Genoeg vir 8 porsies
Bereidingstyd 45 minute

  • 10 ml gelatien
  • 250 ml espresso
  • 50 ml brandewyn
  • 10 ml strooisuiker
  • 2 pakkies (elk 125 g) sponsbeskuitjies
  • 6 eiergele
  • 80 g (100 ml) strooisuiker
  • 2 houertjies (250 g elk) mascarpone
  • 200 g donkersjokolade, grofgerasper
  • 15 ml kakao
  • witsjokoladekrulle
  • bloubessies vir versiering
WENK: Mascarpone is duur. Jy kan die helfte daarvan met geroomde maaskaas vervang.

1.  Sprinkel die gelatien oor 50 ml water in ’n glasbakkie en laat staan tot gespons. Mikrogolf dit vir 20 sekondes of laat dit oor die stoom van pruttende water oplos. Laat staan tot afgekoel.

2. Meng die espresso en brandewyn en roer die 10 ml strooisuiker by tot opgelos. Gooi dit in ’n vlak bak. Doop die helfte van die sponsbeskuitjies een-een daarin en plaas die beskuitjies langs mekaar in ’n reghoekige bak waarin hulle netjies pas. Sny die koekies kleiner, indien nodig, sodat hulle mooi dig teenmekaar lê.

3. Klits die eiergele en 80 g strooisuiker totdat dit dik en romerig is. Roer die mascarpone versigtig by.

4. Roer die koue gelatien by. Skep die helfte van die mascarpone-mengsel oor die sponsbeskuitjies. Doop die oorblywende beskuitjies ook in die koffiemengsel en rangskik dit bo-op die mengsel.

5. Skep die ander helfte van die mascarpone-mengsel oor en sprinkel sjokolade bo-oor. Sit dit in die yskas tot gestol. Versier dit met witsjokoladekrulle en bloubessies, sif kakao oor en sny in skywe om voor te sit.