1. Sny die aartappels, skil en al, in dun tjippies. Gebruik ’n mandoliensnyer. Jy kan dit ook met die hand sny, maar dit gaan ’n tydjie vat! Hou die tjippies in ’n bak water terwyl jy werk, sodat dit nie verkleur nie. Die gesnyde tjips kan oornag in water in die yskas gebêre word.

2. Druk die tjips goed droog met kombuis-papier en braai dit in sarsies vir 5 minute op ’n slag in diep olie. Onthou, slaptjips moet twee keer gebraai word – die eerste keer om dit sag te maak en die tweede keer vir brosheid. Skep die tjippies met ’n gaatjieslepel uit, dreineer dit op kombuis-papier en braai al die tjippies tot dit sag is, maar nog nie verkleur het nie. Braai die tjippies nou ’n tweede keer tot goudbruin en bros.

3. Kap die roosmaryn saam met die sout. Sprinkel dit oor die tjippies sodra dit uit die warm olie kom. 

Ansjovismayonnaise 

Sit die eiergele, mosterd en asjovis in ’n mengbak en klits goed met ’n elektriese klitser. Voeg die olie druppel vir druppel by terwyl jy aanhoudend klits tot die mengsel ’n dik, glansende mayonnaise maak. Klits die res van die geurmiddels en sowat 15ml kookwater by. Hou dit in die yskas tot nodig.