1. Verhit die olie in ’n dikboompan en braai die ui, wortel, patat en knoffel tot sag en glansend. Moenie te haastig wees nie, dit bou geur. Voeg die maalvleis en speserye by en braai totdat die vleis mooi bruin is. Geur met sout en peper en breek die vleis deurgaans met ’n spaan op. Roer die bone, rissiestukkies en koljander by en verhit tot deurwarm. Haal van die hitte af.

2. Vir die sous Smelt die botter en roer die meel by om ’n roux te maak soos vir ’n witsous. Braai die mengsel vir ’n minuut of twee en klits dan die warm aftreksel met ’n ballonklitser by. Bring tot kookpunt, verlaag die hitte en laat prut vir 5 minute. Roer die suurroom en avokadovlees by en maak fyn met ’n staafmenger. Geur na smaak met sout, peper en lemmetjiesap.

3. Smeer ’n lepel vol avokadosous oor elke tortilla, skep van die maalvleis oor en strooi kaas bo-oor. Vou nou die tortilla toe soos ’n koevert (sien skets).

4. Verhit ’n bietjie olie in ’n pan en braai nou die pakkies een vir een met die voukant eerste tot gerooster en lekker bruin. Gebruik ’n spaan om dit plat te druk terwyl jy braai. Draai versigtig om en braai ook die ander kant.

5. Herhaal tot al die pakkies klaar is. Sit nou net so voor met die ekstra avokadosous as doopsous. Alternatiewelik kan jy die pakkies in ’n oondbak rangskik, die sous oorgiet en ekstra kaas oorstrooi; rooster dan totdat die kaas borrel.