Dis so maklik om mayonnaise uit ’n potjie te skep vir broodjies,slaaisouse, broccolihoender en nog ’n rits ander familiegunstelinge. So hoekom die moeite doen en jou eie maak? Wag tot jy proe!

1 Sit al die bestanddele behalwe dieolie in ’n mengbak en klits goed met ’n elektriese klitser tot dik en lig. Jy kan natuurlik ook jou voedselverwerker inspan vir die taak.

2 Voeg nou die helfte van die olie druppel vir druppel by terwyl jy aanhoudend klits tot die mengsel dik en glansend is. Nou kan jy die olie in ’n dun straaltjie byvoeg. Indien die mayonnaise dik genoeg is voordat al die olie bygevoeg is, hoef jy nie nog by te klits nie. Geur na smaak met sout en peper. Klits laastens 15ml kookwater by. Hou dit in die yskas tot nodig.

Wenk

Die hoeveelheid olie is net ’n riglyn. Soms gebruik ek minder olie as ander kere – alles hang van die eiers af.

VARIASIES

Wees kreatief en voeg enige van die volgende by: ’n knippie peperwortel, ’n spuitjie wasabi, chipotle-rissie, gekapte kruie of sprietuie, fyngekapte ansjovissies, srirachasous ... die lysie kan lank word!

Help, die spul het geskif!
Mayonnaise skif wanneer die olie te vinnig bygevoeg word, wat die emulsie breek. Moenie moed opgee en die mengsel weggooi nie; begin net weer met een ekstragroot eiergeel in die bak. Klop dit saam met ’n knippie sout, peper, asyn en mosterd. Klits dan die geskifte mengseldrupsgewys by totdat alles ingewerk is, gevolg deur die res van die olie. Span jou elektrieseklitser of menger in en dit sal in ’n japtrap weer bymekaarkom.