Genoeg vir: sowat 12 klein pannekoeke

Bereidingstyd: 30 minute

Gaarmaaktyd: 1 uur

Oondtemperatuur: 180 °C

Bestanddele

PANNEKOEKBESLAG

• 250 ml koekmeel

• 5 ml bakpoeier

• 1,5 ml sout

• 250 ml water

• 62,5 ml olie

• 125 ml melk

• 7,5 ml asyn

• 1 eier

TUNAVULSEL

• 2 hardgekookte eiers, fyngedruk

• gerasperde of fyngekapte uie na smaak

• 1 blikkie gevlokte tuna

• 250 ml gerasperde gouda of cheddar

• mayonnaise

• 250 ml room

So maak jy

1 Meng die meel, bakpoeier en sout in ’n bak. Meng die water, olie, melk, asyn en eier in ’n aparte bak en voeg dit dan by die meelmengsel. Klits totdat daar geen klonte meer is nie en bak die pannekoeke.

2 Meng die fyngedrukte eier, uie, tuna en kaas. Geur na smaak met sout en peper (ek gebruik Aromat) en meng dan met genoeg mayonnaise om ’n sagte mengsel te vorm. Vul die pannekoeke daarmee en rol op.

3 Plaas die gevulde pannekoeke in ’n oondvaste skottel en giet die room oor. Bedek met foelie en bak dit vir sowat 30 minute. Laat staan sowat 10 minute en sit voor met ’n groen slaai.