Oondtemperatuur: 200 °C

1 Rangskik die 6 skyfies ham styf teen mekaar op ’n skoon kapplank, met die salieblare bo-op. Maak seker die varkfilet is sonder enige senings en sit dit bo-op die ham neer. Sny ’n gleuf in die lengte van die vleis en smeer die hele binnekant met mosterd. Sit ’n blokkie feta in die holte van elke sampioen en rangskik dit in ’n ry binne-in die filet. Vou die vleis toe oor die sampioene en dan in die ham sodat dit ’n netjiese rol vorm. Braai die vleisrol vinnig in ’n pan oor hoë hitte tot oraloor geseël en mooi bruin. Laat  effens afkoel.

2 Rol die blaardeeg oop en dan effens dunner op ’n skoon werkoppervlak. Sit die gebraaide filet daarop neer. Rol die deeg styf om die vleis sodat die rande van die deeg net genoeg oorvleuel dat jy dit kan seël. Sny enige oortollige deeg af, knyp die punte toe en sit die rol met die naatkant na onder op ’n gesmeerde bakplaat. Verf oraloor met eier en versier met die oorskietdeeg. Verf die versierings ook met eier en sit die hele gedoente in die yskas terwyl die oond voorverhit.

3 Bak dan die pastei vir 35–40 minute of tot die deeg goudbruin en die vleis gaar is. Laat rus vir sowat 10 minute voordat jy dit sny. 

Alternatief Vervang gerus die korrelmosterd in die vulsel met ’n skeppie uiemarmelade, of smeer ’n teelepel vol marmelade oor die geseëlde vleis voor jy dit in die deeg toerol vir ’n effense soet geurtjie. Pasop vir te veel – dit kan die deeg pap maak.