Oondtemperatuur: 120°C

Voorverhit die oond. Gebruik ’n vlymskerp handwerkmessie en sny die vel van die roosterstuk in ’n ruitpatroon of lyntjies. Vryf nou die sout, speserye en sitrusskil oor die hele blad. Sit al die groente, bier, lemoensap en suurlemoensap in ’n oondroosterpan en plaas die gegeurde vark bo-op. Bedek met ’n dubbellaag foelie en bak stadig vir sowat 6 uur.

2 Haal die oondroosterpan uit die oond en laat staan vir 15 minute. Verwyder die foelie en verplaas die vleis na ’n skoon bakplaat. Rooster die vleis nou onder ’n verhitte roosterelement tot die vel bros enkrakerig is.

3 Berei die sous Skep die groente uit die pansouse en druk die knoffel uit die velletjies in die sous. Plaas die oondroosterpan sommer net so op die stoof en voeg die tamaties, koljander en blatjang by. Laat prut tot dik en geurig. Geur na smaak met sout en peper en sit saam met die geroosterde blad voor met al jou gunstelinggroentes.

As alternatief Rafel die varkvleis en meng dit deur die sous.

Oorskiet?

Hier is 3 planne met rafelvark

Vullende aartappelwiggies

Bak 500g bevrore aartappelwiggies volgens die aanwysings op die pakkie in ’n voorverhitte oond tot goudbruin en bros. Skep ’n lepel warm kaassous bo-op, gevolg deur ’n ruim porsie rafelvark. Strooi ’n paar vars kersietamatieskyfies en gekapte sprietuie oor as jy wil, en rond die lot af met ’n tjirts Sriracha-rissiesous. Makliker kan dit nie.

Spek-kaas-en-aartappelkoekies

Skil en kook 3 middelslag-aartappels in soutwater tot sag. Dreineer en druk fyn; laat effens afkoel. Meng 125ml gaar spekblokkies, 125ml mieliepitte, 30ml bruismeel, 60ml fyngerasperde kaas en 1 eier by om’n stywe beslag te vorm.

Verdeel in 12 balletjies en braai in ’n bietjie olyfolie en botter tot goudbruin. Druk die balletjies platter met jou spaan terwyl jy dit braai sodat elkeen ’n koekie vorm. Bedek met ’n ruim skep rafelvark en, as jy rojaal wil wees, ’n strooisel gerasperde kaas en vars koljander.

Blitsvinnige varkpasteitjies

Ontvries ’n rol (450 g) blaardeeg en rol oop op ’n skoon werkoppervlak. Sny in 8–12 blokke met ’n skerp mes. Verf ’n bietjie geklitste eier om die rande en skep ’n lepel rafelvark in die middel van elk. Vou nou die deegvierkante om die vulsel toe en druk om die rande vas met ’n vurk. Verf die bokante ook met eier, strooi sesamsaad oor en druk ’n stoomgaatjie in elkeen. Bak vir sowat 20 minute teen 200 °C of tot goudbruin en gaar.