1. Begin met die rys

Verhit die olyfolie en braai die ui, knoffel en brandrissie stadig daarin tot die uie glansend is. Voeg die rys by en roer tot al die korrels met olie bedek is. Voeg die tamaties en aftreksel by en laat stoom met die deksel op tot die rys gaar is (volg die aanwysings op die pakkie vir gaarmaaktyd). Vul die vloeistof aan indien nodig. Wanneer dit gaar is, geur na smaak met sout en peper en roer die nierboontjies by.

2. Dan die vark

Smeer die vleis met die sout en suiker, speserye, suurlemoenskil en olyfolie. Verhit ’n riffelpan tot lekker warm en braai die steaks tot deurgaar en goudbruin aan albei kante. Dit behoort nie langer as 8 minute te neem nie, maar hang af van die dikte van jou vleis. Draai om soos jy goed dink. Laat die vleis vir 10 minute rus voor jy dit in happiegroot blokkies sny.

3. Nou vir die burrito’s

Rooster die tortillas aan albei kante in ’n droë pan om dit sag te maak. Smeer met ’n lepel suurroom en skep dan ’n lepel koolslaai daarop, gevolg deur die rys, tamaties en vleis. Vou die tortilla se kante in en rol dit op met behulp van ’n vel waspapier (draai die punte van die papier soos ’n Kersklapper). Herhaal met die res van die bestanddele. Sny nou jou burrito met ’n skerp mes in die middel deur – dit vergemaklik die eet baie. Geniet met guacamole en salsa.