1 Sny enige oortollige vet van die steaks af (mik na ’n eweredige rand nie dikker as 1 cm nie). Vryf nou die vleis in met die balsemiekasyn en 5 ml van die olyfolie; laat dit vir sowat 10 minute eenkant staan om te marineer.

Verhit dan ’n riffelpan tot lekker warm. Skroei die steaks oraloor tot dit mooi swart lyntjies het en die buitekante goudbruin is. Geur met sout en peper en verwyder die pan van die hitte.

Verhit die res van die olyfolie in ’n pan met ’n deksel en braai die soetrissies tot geurig. Voeg die rys by en roerbraai tot oraloor met olie bedek. Voeg die aftreksel, tamaties en olywe by en roer. Rangskik die gebraaide varkvleis bo-op die geurige rys, bedek en laat stoom vir sowat 15 minute. Vul die vloeistof aan indien nodig. Haal die deksel af, proe die rys; indien nodig, laat stoom vir nog 5 minute of tot die rys sag is. Sit voor met die feta en kruie bo-oor gesprinkel.

Varksteaks het min vet en is vinnig en maklik om gaar te maak. – Tuis se kosredakteur, Johané Neilson