1 Verwyder enige silwer membraan en geur die filette deur die braaispeserye en olie reg rondom te vryf. Skroei die vleis vinnig in ’n pan oor hoë hitte tot oraloor geseël en mooi bruin. Verwyder van die hitte en laat heeltemal afkoel.

2 Kook die appelskyfies vinnig in water tot sag; dreineer en druk droog.

3 Rangskik die snytjies ham naby mekaar op ’n skoon kapplank, bedek dit met ’n enkellaag spinasieblare en ’n laag appelskyfies. Stip die helfte van die marmelade in ’n lyn oor die middel, plaas die varkvleis-filette knus bo-op die marmelade en smeer die res van die marmelade oor. Vou die ham en vulselbestanddele oor die filette sodat dit ’n netjies rol vorm.

4 Rol die blaardeeg oop op ’n skoon werkblad en rol die deeg dan effens dunner. Verf die deeg met geklitste eier en draai die deeg dan styf om die vleis sodat die rande net genoeg oorvleuel om dit te seël. Sny enige oortollige deeg af, knyp die ente toe en plaas die rol met die naat na onder op ’n gesmeerde bakplaat. Verf oraloor met eier. Versier met die oorskietdeeg, verf dit ook met eier en sit die pastei dan in die yskas terwyl die oond warm word.

5 Voorverhit die oond tot 200 °C. Bak die pastei vir 45 minutes of tot die deeg goudbruin en deurgaar is. Laat rus vir sowat 10 minute voor jy dit sny.

Ken jou snit: Varkvleis-filet

Varkvleis-filet, ’n kleinerige, baie sagte beenlose snit, word nie altyd in die vleis-yskas uitgestal nie en jy moet dit gewoonlik ’n dag of twee tevore bestel. Dis dikwels die duurste varkvleis per kilogram, maar dis elke sent werd omdat dit so ’n gerieflike snit is. Vra dat die slaghuispersoneel jou filet(te) vakuumverpak sodat dit langer vars bly in die yskas.

Vra gerus ook jou slagter om die dun silwer membraan buite-om die filet met sy vlymskerp mes af te sny. Dit sal verseker dat die filet nie omkrul terwyl dit gaar word nie.