Gnocchi is ’n Italiaanse lekkerny wat gewoonlik van aartappels gemaak word. Maar ons wys jou hoe om smullekker botterskorsie-gnocchi te maak.

0811CLstap -06

Botterskorsie-gnocchi

Genoeg vir: 4 porsies

Oondtemperatuur: 180 °C

Bereidingstyd: 1 uur

Gaarmaaktyd: 10 minute

Bestanddele:

• 500 g aartappels

• 500 g botterskorsie, in blokkies gesny

• 5 ml olyfolie

• 30 g botter

• 175 g koekmeel

• 1 eiergeel, geklits

• sout en swartpeper

So maak jy 

Stap: 1 Voorverhit die oond. Kook die aartappels tot halfgaar, dreineer en skil af. Sny dit in blokkies en rangskik dit op ’n bakplaat saam met die botterskorsieblokkies. Sprinkel die olyfolie oor die groente en rooster tot gaar. Druk die botterskorsie en aartappels fyn totdat dit soos ’n puree lyk (hoe fyner, hoe beter). Verhit die botterskorsie-en-aartappelpuree in ’n kastrol saam met die botter en roer totdatdie mengsel dik en droog is. Laat dit afkoel.

0811CLstap -05

Stap: 2 Sif die meel en voeg die botterskorsieen - aartappelmengsel, asook die eiergeel daarby. Geur met sout en swartpeper. Meng goed tot ’n sagte deeg.

0811CLstap -08

Stap: 3 Verdeel die deeg in vier stukke en rol elke stuk in ’n worsie van sowat 1,5 cm dik. Sny elke worsie in 2 cm-stukkies om die gnocchi te vorm. WENK Rol die gnocchi in semolina en druk elkeen effens platter met ’n vurk om mooi lyntjies daarop te maak. Bêre dit in die yskas tot wanneer jy dit wil gaarmaak (sien wenk). Bedek dit liggies met kleefplastiek.0811CLstap -01

Stap: 4 Verhit water in ’n groot kastrol en voeg sout by. Plaas die gnocchi in die kookwater en kook dit vir sowat 2-3 minute of totdat dit na die oppervlak styg. Verwyder dit met ’n gaatjieslepel en roer ’n bietjie olyfolie deur. Sit dit voor met bruin botter en salieblare of jou gunstelingnapolitana- sous. Of probeer ons spek en gekneusde tamaties.

0811CLstap -04

Wenke

• Jy kan ook botterskorsiegnocchi sonder aartappel maak. Gebruik dan 1kg botterskorsie en volg die resep soos langsaan. Botterskorsiegnocchi word tradisioneel baie eenvoudig voorgesit – bruin botter en salieblare is al wat dit vra.

• Maak die botterskorsie of aartappel eerder oorgaar as net gaar.

• Dis belangrik om die botterskorsie of aartappel baie fyn te druk om te verseker dat dit nie klonterig is nie.

• Moenie die rou gnocchi te lank voor die tyd maak nie, aangesien dit sal water trek. Plaas dit in die yskas vir hoogstens 3 uur nadat jy dit gemaak het.

• Kook die gnocchi eerder in klein sarsies as ’n groot hoeveelheid op 'n slag.

Vir die sous:

Spek en gekneusde tamaties -  Verhit ’n bietjie olyfolie in ’n braaipan en braai sowat 125 g spek tot bros. Skep dit uit. Braai 500 g baba-rosatamaties in die braaipan oor matige hitte tot goudbruin en totdat die tamaties oopbars. Jy kan die tamaties liggies met ’n houtlepel druk om dit te laat oopbars. Voeg ’n bietjie bruinsuiker by en geur met sout en swartpeper. Om voor te sit Skep die gnocchi in opdienborde en skep van die tamaties bo-op. Sprinkel dan ’n bietjie spek en ’n paar parmesaankrulle oor.

Bruin botter en salieblare -  Verhit botter in ’n pan saam met salieblare. Verwyder die pan van die hitte sodra die botter effens bruin verkleur. Roer dan die gesmelte botter

en salieblare deur die gnocchi.