Die eksperimentele sjef Heston Blumenthal het ’n resep vir bierbeslag ontwikkel met ewe veel vodka as lager. Hy verduidelik die vodka se hoë alkoholinhoud verdamp vinnig in die warm olie, wat die beslag gouer bros maak. Ek kon dit nie oor my hart kry om so baie vodka te gebruik nie, en het net ’n eetlepel vol bygevoeg vir die proe!

1 Maak seker die vis is goed droog en rol dan elke filet versigtig in die mielieblom; skud die oortollige meel af in ’n groot mengbak. Voeg die bruismeel, bakpoeier en sout by die mielieblom en klits die koue bier en vodka by met ’n ballonklitser tot die beslag net glad is.

2 Verhit die olie vir diepbraai. Toets die hitte met ’n blokkie brood: As die brood vinnig na die oppervlak styg en goudbruin verkleur, is die olie se temperatuur reg.

3 Doop die vis in die koue beslag en laat enige oortollige beslag afdrup voordat jy dit goudbruin braai in die verhitte olie.