1. Braai die spek in die olie tot goudbruin, en skep uit. Rol die volstruisskywe en die beesvleisblokkies in die meel en braai in die uitgebraaide vet tot goudbruin. Doen dit in sarsies om seker te maak dat die vleis braai en nie stowe nie; skep telkens uit. Sit dan die speserye, groente en tamatiepasta in die pot en roer vir ’n paar minute deur tot warm.

2. Giet die koffie by en skraap enige stukkies op die bodem van die pan los. Voeg nou al die vleis, die tamaties, kruie en sout en peper na smaak by en laat prut met die deksel op vir sowat 2 uur. Roer af en toe.

3. Kook die aartappels in water vir 5 minute en roer dit dan by die potjie. Laat prut sonder die deksel vir nog 45 minute of tot die aartappels en vleis sag is. Geniet met bruin-en-wilderys. 

Koue koffie
Jamie Oliver het ’n grootindruk op my gemaak toe hy in Jamie’s America warm koffie in sy cowboy-kos gooi en verduidelik hoe die cowboys nie koue koffie sou mors nie, maar dit liewer in die pot sit. Dié bredie span koffie op dieselfde manier in vir ’n lekker diep, ryk smaak.