Sit die vrugte, jogurt en saadjies in ’n bekerversapper en pols totdat die smoothie glad is. Verdun indien nodig met melk en versoet na smaak met heuning.

Vrugte soos mango en piesang vries albei goed en gee ’n heerlik romerige tekstuur aan dié drankies, terwyl bessies ’n soetsuur geur byvoeg. Eksperimenteer met verskillende kombinasies vrugte en geurmiddels soos gemmer en grondboontjiebotter tot jy jou wenresep kry.

NOG NIE GEHOOR VAN CHIA NIE?
Chia lyk soos papawersaadjies en omdat dié supervoedsel ryk is aan vesel, laat dit jou langer versadig voel. Eet die saadjies rou,
of week dit in melk of water – dit sal die saadjies laat swel en ’n jel vorm wat dit meer verteerbaar maak. Dit kan soos sago as verdikkingsmiddel in soppe en bredies gebruik word.