1 Verpulp die vrugte wat jy wil gebruik. Geur dit na smaak met suurlemoensap en ’n bietjie suiker, afhangend van hoe soet die vrugte is. 

2 Meng die eier en eiergeel met die strooisuiker in ’n glasmengbak oor ’n kastrol met ’n bietjie kookwater op die stoof en klits op hoë spoed tot lig en verdik (sowat 5 minute). Verwyder van die hitte en klits tot die bak koud is. 

3 Klits die room tot styf en meng dit saam met die vrugtepuree by die dik eiermengsel. 

4 Giet die mengsel in vormpies en sit ’n paar ekstra stukkies vrugte by vir die mooi as jy wil. Druk ’n roomysstokkie in elkeen en bevries tot hard. 

Wenke

• Hou van die vrugtepuree eenkant en skep ’n bietjie bo-op die mengsel in die houers vir ekstra mooi.

• As jy nie yslolliehouers het nie, bevries die roomys in ’n broodpannetjie wat met kleefplastiek uitgevoer is en sit voor in skyfies 

Die resep is eenvoudig, maar kan verder opgedollie word met stukkies verglansde gemmer, sjokoladesplinters, gerasperde sitrusskil of vanielje. As jy eers die basiese mengsel onder die knie het, kan jy maar kreatief raak.