Genoeg vir: sowat 24, afhangend van die grootte van die vormpies

Bereidingstyd: 45 minute

Baktyd: 12–15 minute

Oondtemperatuur: 180 °C

Bestanddele

  • vars vye, bessies en granaatpitte

DEEG

  • 250 g koekmeel
  • 85 g versiersuiker
  • 125 g sagte botter, in blokkies gesny
  • 1 eier

VULSEL

  • 1 eier
  • 1 eiergeel
  • 60 g strooisuiker
  • 20 ml meel
  • 10 ml mielieblom
  • 1 vanieljepeul*
  • 250 ml melk
  • 125 ml room

So maak jy 

1 Maak die deeg Sif die koekmeel en versiersuiker saam. Voeg die botterblokkies by en vryf dit met jou vingerpunte in die meel in totdat dit soos growwe broodkrummels lyk. Voeg die eier by en meng tot ’n sagte, gladde deeg vorm. Druk die deegbol plat, draai dit in kleefplastiek toe en sit dit vir omtrent 30 minute in die yskas.

2 Voorverhit die oond Rol die deeg sowat 2 mm dik uit op ’n meelbestrooide oppervlak. Druk sirkels met ’n koekiedrukker uit die deeg (dit moet groot genoeg wees om die holtes van jou tertpannetjies uit te voer). Prik die bodems sodat dit nie krimp terwyl dit bak nie. Vul die doppies met bakpapier en droë boontjies en bak dit blind vir sowat 12–15 minute of tot goudbruin. Verwyder die boontjies en bakpapier en bak die doppies vir nog ’n paar minute tot deurgaar. Laat dit afkoel.

3 Maak die vulsel Klits die eier, eiergeel, strooisuiker, meel en mielieblom saam tot dik en lig. Sny die vanieljepeul in die lengte oop, skraap die saadjies uit en voeg dit saam met die peul by die melk in ’n kastrol. Verhit dit tot net onder kookpunt. Verwyder die peul en klits die melk by die eiermengsel in.

Vee die melkkastrol met kombuispapier uit en gooi die eiermengsel terug daarin. Sit dit op die stoof en bring die mengsel stadig tot kookpunt terwyl jy aanhoudend klits. Kook totdat die vla “gaar” is (sowat 2–3 minute; as die vla nie lank genoeg kook nie, sal dit ’n melerige smaak hê). Laat dit heeltemal afkoel. Klits die room styf en vou dit by die vla in. Vul die tertdoppies met die vla en versier dit met vye, bessies en granaatpitte.

* As jy nie ’n vanieljepeul in die hande kry nie, kan jy 5 ml vanieljegeursel gebruik.