Vir die bolaag

Kies enige kombinasie van brosgebraaide spek en/of avokadoskyfies, kruie, gebakte eiers, tamatie, kruieslaai, srirachasous ... Gee jou verbeelding vrye teuels! 

1. Sif die droë bestanddele vir die wafelbeslag saam. Klits die eiergele, botter en karringmelk saam en meng dit by die droë bestanddele om ’n beslag te vorm. Klits daarna die eierwitte styf en vou dit liggies by die mengsel in. Nou is jy reg om te begin bak!

2. Voorverhit ’n elektriese wafelpan en spuit dit met kleefwerende kossproei. Skep ’n lepel vol beslag op die plaat, maak toe en bak tot goudbruin. Herhaal met die res van die beslag. As jy nie ’n wafelpan het nie, kan jy plaatkoekies met dieselfde beslag bak.

3. Om voor te sit, sny die wafels in kwarte of segmente (dit hang af van die patroon van jou wafelpan) en skep jou gunsteling-bolaagbestanddele daarop. Ons wafelstapels is gevul met snytjies avokado, bros spek, gebraaide uie, vars kruie en kersie-tamaties, en vir ’n finale ta-da! is dit bedruip met srirachasous saam met ’n bietjie gesmelte botter.

Psst! Skyfies brie, bros spek en vyekonfyt is nog ’n wenkombinasie! 

Foto: Francois Oberholster
Oeps!

Gebraaide spek is altyd die eerste bestanddeel wat opgeraap word wanneer ek ’n selfhelp- spek-en-eier-ontbyt vir geliefdes bymekaarsit.

’n Maklike manier om te sorg dat elkeen sy porsie kry, is om die repe spek met glanskersies, dadels, pikantrissies gevul met roomkaas, of kersietamaties op stokkies te ryg en dan te braai of bak. Dié verleidelike oepsies lyk nie net pragtig nie, dit help ook met porsiebeheer.