’n “Naakte” koek verwys na ’n laagkoek wat nie buite-om met versiersel toegesmeer of met fondant bedek is nie, sodat jy die verskillende lae mooi kan sien. Met ons tussenin-tegniek wys die koeklae wel, maar dis sagter op die oog.

Oondtemperatuur: 180°C

1 Voorverhit die oond en voer drie 20 cm-koekpanne uit met bakpapier. Sif die meel en bakpoeier saam in ’n mengbak. Gebruik ’n ander bak en klits die eiers en suiker saam tot baie dik en lig van kleur.

2 Verhit die melk tot net onder kookpunt en laat trek die rooibostee daarin tot sterk. Haal uit en meng die melk met die botter, lemoengeursel en -skil. Vou die meel en die melkmengsel om die beurt by die eiermengsel in. Behou soveel lug moontlik.

3 Verdeel die beslag tussen die drie voorbereide koekpanne. As jy net twee pannetjies het, kan jy die derde hoeveelheid terughou en ná die eerste sarsie bak. Bak vir sowat 25 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Laat heeltemal afkoel en keer uit.

4 Maak die stroop deur al die stroop-bestanddele saam in ’n klein kastrol oor matige hitte te smelt en dan vir ’n minuut of twee te kook. Sny die afgekoelde koeke se bokante gelyk met ’n skerp mes en maak terselfdertyd seker hulle is min of meer ewe dik. (Buk af tot jy op ooghoogte met die koeke is en bekyk hulle só.) Verf die stroop oor die gesnyde bokante – dit hou die koek klam en help om die krummels in toom te hou.

5 Berei die versiersel deur die botter en versiersuiker saam te klits tot lig en romerig, en dan die roomkaas en vanielje vinnig by te klits. Sodoende word die kaas nie oorwerk nie. Smeer ’n laag versiersel bo-op elk van die koeklae en stapel hulle dan op mekaar.

Gebruik nou ’n paletmes om die buitekant van die koek met versiersel te smeer. Sit eers ’n ruim homp versiersel op die mes en “pleister” dit aan. Werk skraap-skraap sodat die koek steeds deurskyn en die versiersel ’n aantreklike grofheid het. Die skoonheid van die tegniek is dat die afwerking nie te netjies moet lyk nie. 

7 Sit die koek versigtig op ’n mooi plank of staander en versier die bokant ryklik met allerhande lekkertes wat by die geur van die koek pas. Ons het ingelegde Clemengold- helftes, appelliefies, sjokoladestukke, karamel- haselneute en versuikerde lemoenskil gebruik, asook suurlemoenblare en eetbare blommetjies wat met eetbare goud geverf is.

Wenk

As die koek onstabiel lyk,steek ’n sosatiestokkie vertikaal in die middelvan die koekstapel in (knip die bokant af sodat dit nie sigbaar is nie) – dit sal keer dat die lae van mekaar afgly.