1 Verhit die olie in ’n kastrol en braai die wildsvleis in sarsies tot oraloor mooi goudbruin en gekaramelliseer. Braai dan die spek. Skep al die vleis terug in die pot en voeg die speserye, tamatie en blatjang by, gevolg deur ’n tamatieblik vol water. Laat prut nou oor baie lae hitte tot die vleis smeltsag is (sowat 3-4 uur). Loer ná so 1½ uur of die pot nie te droog raak nie en vul die vloeistof met water aan soos nodig. 

2 Vlok die vleis, skep dit terug in die pot en voeg die room by. Verhit die vulsel tot deur-warm en verdik dit met ’n bietjie aartappel-meel of mielieblom. Geur met sout en peper na smaak en laat dit heeltemal afkoel.

3 Voorverhit die oond tot 200 °C. Skep die vleis in twee pasteibakke of maak individuele pasteie in klein oondbakkies. Bedek die vulsel met die blaardeeg, verf met geklitste eier en versier dit verder met oorskietdeeg (maak rosies of sny blaartjies vir die mooi). Verf die versierings ook met eier en onthou om ’n paar kepe in die deeg te sny of stoomgaatjies met ’n stokkie te maak; bak 30-45 minute of tot die deeg gaar en mooi goudbruin is. Sit voor met appeljellie of appel-en-rosyntjieblatjang (sien resep onder). 

Appel-en-rosyntjieblatjang

Maak 500 ml

Voorbereiding: 20 minute

Gaarmaaktyd: sowat 2 uur

  • 500 g suur appels, geskil, ontpit en gesnipper
  • 2 uie, gekap
  • 200 g pitlose rosyne
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 15 ml fyn koljander
  • 15 ml seesoutvlokkies
  • 500 ml bruin asyn
  • 1 rooi brandrissie, fyngekap
  • 15 ml fyn gemmer
  • 375 ml bruinsuiker

1 Meng al die bestanddele in ’n groot kastrol. Roer oor matige hitte tot die suiker opgelos is en laat prut dan stadig tot die blatjang dik en donker van kleur is (sowat 2 uur). Roer dit af en toe. 

2 Bottel die blatjang in gesteriliseerde flesse en verseël. Bêre op ’n koel, donker plek vir minstens ’n week sodat dit kan ryp word voor jy weglê.