Tal Screedmaster

’n Gewone afgevlakte vloer is ’n aantreklike en bekostigbare manier om ’n sementvoorkoms te kry sonder om ’n duur bolaag aan te wend. Daar is verskeie beskikbare opsies, onder meer die Tal Screedmaster wat gewoonlik onder matte of teëls gebruik word – hoewel Heinz en Aletté-Johanni Winckler dit as finale afwerking vir hul huis se vloere gekies het.

Tal Screedmaster word vinnig hard en het ingeboude eienskappe wat krake voorkom. Die resultaat is ’n sterk, gladde vloer wat met ’n duursame, krapbestande bolaag (Tal UraSeal WDS) of ’n spesiale was-bolaag verseël moet word. Die was moet ’n paar keer per jaar aangewend word, afhangend van hoeveel voetverkeer dit dra.

Installering

Wend twee lae onderlaag soos Tal Floor Primer aan en laat dit 12 uur droog en hard word voor jy die Screedmaster aanbring. Sodra die Screedmastermengsel gereed is, kan jy dit in die verlangde dikte op die vloer giet (3–16 mm in ’n enkele aanwending) en dan vir 24 uur laat droog en hard word.

Koste

Vanaf R80/m2 (3 mm dik)

Jy kan dit self doen!

Tal het ’n nuttige installasiegids vir selfdoeners op hul webtuiste.

Technical Finishes Smooth ’n Patch

Smooth ’n Patch is ’n dekoratiewe, gepigmenteerde bolaag met ’n sementbasis wat voor aanwending gemeng moet word. Dit gaan lê vanself gelyk en kan bo-oor beton of teëls aangewend word, nes ons Regruk met Flair 2015-naaswenners Anton en Julie Oosthuizen in hul huis op Greyton gedoen het.

Installering

Soos met enige sementvloer moet dit voorberei word met Smooth ’n Patch Liquid of Seal & Strengthen. Indien jy Smooth ’n Patch oor teëls wil gebruik, moet jy die oppervlak eers voorberei met Technical Finishes Probond, sê Chanté Mynhardt, verkope-en-bemarkingsassistent by Technical Finishes. “Smooth ’n Patch kan oor enige teëls geïnstalleer word, solank dit nie gekraak of beskadig is nie. Dit moet eers geskuur word om ontslae te raak van die glasuurlaag en te verseker dat die onderlaag goed in die teëls kan intrek.”

Ná die onderlaag word die Smooth ’n Patchlaag 3–4 mm dik aangewend. Dit word redelik gou droog (sowat 30–40 minute, afhangend van die oppervlak se grootte), waarna die Smooth ’n Patch-mengsel liggies met ’n plank gestryk moet word om ’n gladde afwerking te verseker. Los die vloer dan oornag – dit neem minstens 24 uur om hard te word. Hierna moet jy die vloer verseël; kies ’n verseëlaar met ’n hoëglans- of mat afwerking. Dis raadsaam om 2–3 lae aan te wend.

Koste

Tussen R300/m2 en R600/minstallering ingesluit; pryse wissel na gelang van die dikte van die laag.

Jy kan dit self doen!

’n Goedgekeurde vakman word sterk aanbeveel, maar Anton en Julie het dit self gedoen!

Coprox

Coprox Waterproof Dualcoat is ’n sementagtige bolaag wat ook waterdig is. Dit word oor ’n bestaande afvlaklaag aangewend met ’n troffel in ’n baie dun pleisterlaag. Jy kan ook ’n kwas vir aanwending op mure gebruik, wat ’n tekstuurryke effek sal gee.

Installering

Wanneer Waterproof Dualcoat oor ’n nuwe afvlaklaag aangewend word, maak seker dat die afvlaklaag behoorlik verhard het en heeltemal droog is (wag 21–28 dae). Gee die Dualcoat 48 uur kans om droog te word en wend dan twee lae Coprox Wall and Floor Clear Sealer aan. Wag 24 uur tot die vloer droog is voor jy daarop loop of meubels daarop neersit.

Koste

Sowat R135/m2 (vir ’n laag van ongeveer 5 mm)

Jy kan dit self doen!

Coprox Waterproof Dualcoat word in 25 kg-sakke verkoop met stap-vir-stap-aanwysings op die verpakking.