Foto’s Henk Hattingh | Stilering Shelly Bergh

Die ontspanne sitkamer se fokusmuur is van ontblote bakstene met ’n afgewitte effek. Pascale het die inspirasie vir dié fokuspunt gekry uit haar 16 jaar lange verblyf in Toulouse, Frankryk. “Toulouse staan ook bekend as La Ville Rose – Die Pienk Stad – omdat baie geboue daar met terracotta-stene gebou is,” verduidelik sy. Hier is rooi plaveistene van die ou stoep gebruik, met wit sement tussenin; party lae is met hoepelyster aan die muur daaragter vasgemaak. Vir afronding is wit sement met ’n spons oor die stene aangewend, wat ’n pragtige, tekstuurryke afwerking geskep het. Nicholas het die hout-en- staalplafonlig gemaak.

Wie woon hier? Nicholas Houbart en Pascale Mouries Houbart en hul seuns, Xavier (2) en Max (3 maande), en Luna, die hond

WAAR Houtbaai, Kaapstad

GROOTTE 250m2

Dit was vir die Houbart-gesin ’n groot verligting toe hulle in 2016 uit hul beknopte woonstel in Seepunt na ’n dubbelverdiepinghuis langs die kus kon trek. Met ’n groeiende gesin het hulle beslis die ruimte nodig gehad!

Al het die skuif ’n langer pendeltyd vir albei beteken (Pascale is ’n aankopebestuurder by Woolworths en Nicholas is ’n sleutelrekening-bestuurder by MOOV Fuels) het hulle op Houtbaai besluit omdat dit meer bekostigbaar is as die middestad. Die pragtige see- en berguitsig het die knoop deurgehak – en boonop het hulle familie in die omgewing.

So het hul nuwe lewe toe begin – met ’n nuwe huis, ’n opknapprojek in volle gang, ’n woelige kleuter en ’n baba op pad!

“Ons was regtig baie gelukkig,” sê Pascale. “Dit was nie nodig om enige mure uit te breek nie, want ons nuwe huis se struktuur en vloei was goed.” Maar die afwerking binne was afgeleef: Daar was waterskade weens lekkende pype, te veel donker hout, ou diefwering, stukkende ligte en deurgetrapte matte. Die plek het gesmeek om ’n opknap!

“Nicholas het die hele projek bestuur – en in die proses baie slapelose nagte beleef,” sê Pascale. “Hy het naweke aan die huis gewerk om seker te maak dat ons koste besnoei waar ons kon en dat die vernuwings tot die beste van ons vermoë gedoen word. Ek is baie trots op hom en sy raakvat-houding!”

Pascale het gefokus op die afronding. Nou is hul huis vars en stylvol – buite en binne.

Ek kombineer graag tydlose, elegante kleure soos naaswit en grys met titsels kleur. – Pascale
Dol hieroor!

Pascale het die ou vensterraam by ’n sloopwerf opgetel – sy het net die glas vervang met spieëls. Die trap van donker hout is wit geverf om by die ligte, lugtige voorkoms van die oopplan-leefarea te pas.


Nicholas en Pascale kan die grys en blou bykomstighede in klein Xavier se slaapkamer maklik verander namate hy ouer word.

Blou hanglamp van MRP Home

In Max se kamer verskaf bykomstighede in rooi, blou en grys ’n prettige skeepselement. Al die matte in die slaapkamers is met sementvloere vervang.

Die vloere is van wit sement, fyn sand en Sikaflex-bindvloeistof, afgewerk met ’n laag ACRI 700-akrielhars.

Eetkamertafel van Coricraft; stoele van Loft Living

Die oorspronklike kombuis met sy granietblaaie was presies wat die paartjie wou hê. Hulle het net die mure geverf en ’n spatpaneel van Marokkaanse teëls bygevoeg. “Die goeie toestand van die kombuis het ’n groot rol gespeel in ons besluit om die huis te koop – dit het ons baie tyd en geld gespaar,” sê Pascale.

Teëls op spatpaneel van Moroccan Warehouse

Die mure in die kinders se badkamer het ’n laag wit verf gekry. ’n Ou boekrak is in ’n kas met maasdraaddeure verander; binne-in hou bêrebokse alles netjies.

Die gastekamer bo spog met vars wit meubels in die Franse styl. Pascale het die Gordon Fraser-kas – ’n erfstuk – geverf om in te pas by die res van die vertrek.

Kanttafel en stoel van Loft Living

’n Deel van die gastekamer is afgeskort vir dié studeerhoekie.

Pascale het die ou houtkas al vir jare; sy het dit afgewit en blou bygevoeg vir ’n nuwe voorkoms.

Die hoofslaapkamer se en suite is opgekikker met nuwe vloerteëls en ’n vars laag verf.

’n Stoep, kompleet met praktiese sementvloer en latte-dak, is ’n wonderlike toevoeging tot die agterplaas.

V&A met Pascale en Nicholas

Wat was jul grootste uitdagings?

  • Dis moeilik om by ’n begroting te hou wanneer boukoste aanhou styg terwyl jy opknap!
  • Soms het jy wonderlike idees, maar wanneer dit by die uitvoering kom, besef jy dit werk nie eintlik nie; dan moet jy maar weer begin! Dis wat met ons balkon gebeur het: Ons het dit met latte bedek soos die stoep, maar dit het nie gepas nie. Ons moet dit nog oordoen om beter by die res van die tweede verdieping in te skakel.
  • ’n Groot struikelblok is wanneer jy tyd en geld mors op mense wat nie regtig weet wat hulle doen nie. Ons het ’n paar werkers gehad wat duidelik kansvatters was, of te besig met ander projekte; hulle het eendag net verdwyn! Deesdae dring ons aan op verwysings.
  • Ons was gelukkig dat ons tydens die werkery by familie kon bly, maar selfs nadat ons ingetrek het, was daar nog baie te doen. Dis nie maklik om te woon waar jy opknap nie! Maar ons het ons oog op die eindproduk gehou; dit het gehelp.

Was daar enige konflik en hoe het julle dit hanteer?

’n Beperkte begroting en min tyd het baie druk op ons geplaas en ons moes soms moeilike besluite neem oor hoe ons dinge wou hê. Maar op die ou end het alles uitgewerk – ons moes net een hekkie op ’n slag oorkom.

Enige geldspaarwenke?

  • Snuffel rond vir goeie aanbiedinge, besoek verskaffers en fabriekswinkels, en vervoer materiaal self of vra vriende en familie om te help.
  • Probeer om self projekbestuurder te speel, al verg dit meer moeite en tyd.
  • Beplan goed: Ons het vooraf baie gesels, geteken en gemeet om verwarring te vermy en nie geld te mors in die proses nie.

Wat is volgende?

Ek is vir eers net tevrede om die resultate van die jaar lange projek te geniet. Maar my man se hande jeuk al weer vir die volgende uitdaging! Dalk ’n vakansiehuis...

Die kostes

Totaal: R294 550

INRIT

Lê fondamente en bou mure 35 000

Hek en installering 22 000

Garagedeur en installering 8 000

INGANG

Deur 6 000

Buiteteëls 6 000 

Agterplaas (kleiner swembad en dek geïnstalleer) 59 000

KOMBUIS

Marokkaanse teëls 1 200

SITKAMER

Baksteenmuur 2 500

Kaggel 10 000

GASTEKAMER

Materiaal vir muur en deur om kantoor af te skort 2 500

Verf 4 000

Badkamerverf en -teëls 1 000

KINDERS SE BADKAMER

Verf 2 500

HOOFSLAAPKAMER

Materiaal en arbeid vir ingeboude kas 18 000

Nuwe venster 1 500

HOOFBADKAMER

Stort oorgedoen 7 000

Stortteëls 6 500

PERSONEELKWARTIER

Mure en fondamente (materiaal en arbeid) 15 000

Stort (materiaal, arbeid) 6 000

ALGEMEEN

Argitek 15 000

Ligtoebehore 9 850

Vloerbedekking (afvlak en verf) 23 000

Arbeid en materiaal vir herstel van dak 10 000

Elektrisiën 9 000

Loodgietwerk 9 000

Tuin 5 000

Die afwerking

Afvlaklaag en vloerverf Dekro Paints (0800 222 423, dekro.co.za)

Kombuisteëls Moroccan Warehouse (021 461 8318)

Ligtoebehore Arora Lights (021 949 2520, aroralights.co.za)

Badkamertoebehore On Tap (033 345 1647, ontap.co.za)

Stortteëls CTM (0860 144 856, ctm.co.za)

Tuin-items Garden Worx (021 438 1773, gardenworx.co.za)

Kaggel Fireplace Studio (021 712 3713, fireplacestudio.co.za)

Loodgieter Aqua Plumbing (021 790 4786, aquaplumbingsa.co.za)

Elektrisiën Budget Electrical (021 434 0603)

Hout vir dek Timbacore (021 949 5555, timbacore.co.za)

Bykomstighede Coricraft (021 508 6200, coricraft.co.za), Loft Living (021 422 0088, loftliving.co.za), MRP Home(0800 212 535, mrphome.com)