Wie woon hier? Louise Liebenberg, Salvelio Meyer en hul katte, Mila en LorcaWAAR Port ElizabethGROOTTE 10 m2

Hulle hou van onthaal, in kafees kuier en die Spaanse regisseur Pedro Almodóvar se kleurryke flieks.

Toe die geleentheid hom dus voordoen, het Louise en Salvelio besluit om ’n beknopte deurgang na hul stoep in ’n gesellige kafeetjie in die Spaanse styl te omskep.

"Ander mense het kroeë by die huis, hoekom nie ’n private kafee nie!" – Louise

Die projek het vyf maande geneem, en buiten die plafon met die gesonke ligte (daarvoor was ’n elektrisiën se hulp nodig) en ’n paar kussings wat ’n vriendin gemaak het, was als hul eie handewerk.

“Dit het gehelp dat ons ’n duidelike visie gehad het van wat ons wou hê,” sê Louise, ’n artikelredakteur by ’n plaaslike koerant. “Gelukkig is Salvelio ’n ywerige selfdoener – en ek ’n gewillige handlanger!”

Salvelio, ’n videograaf, het voorheen die sementvloer gelê met net ’n paar sakke sement, goedkoop houtplanke, beits en vernis. “Ons vriende het gesê dit sou nooit werk nie, maar die eindproduk het fantasties gelyk, én dit verweer besonder goed,” voeg Louise by.

Die paartjie sê dit was ’n lekker projek vir hulle om saam aan te pak – en hulle kon ’n onderbenutte deel van hul huis verander in ’n lekker kuierplek wat hulle nou gereeld gebruik. Hulle het dit Café Milorca genoem – na hul twee katte, Mila en Lorca!

1. Die grys muur is nie sement nie, maar muurteëls (Poseidon Grey Stone Look van Ceramic Tile World) in die natuurlike granietvoorkoms wat hulle wou hê. Die donker muur is met Plascon Tribecca Corner geverf en versier met vinielplakkers wat aanlyn gekoop is. 2. Familiefoto’s in bekostigbare rame versier nog ’n muur. Die ingeboude banke verskaf ook bêreplek. 3. Die sweefrakke is gemaak van goedkoop steierhout wat Salvelio geskuur en in helder kontrasterende kleure geverf het. Hy het die kaste gemaak van afvaldennehout wat hy op maat gesaag het en met swart en wit strepe geverf het. Die rooi Caesarstone-blad was ’n afvalstuk van ’n plaaslike klipmesselaar, en het ’n breukdeel van die gewone prys gekos omdat die kleur gestaak is!

V&A met Louise en Salvelio

In die knap ruimte was dit ’n uitdaging om die proporsies net reg te kry – elke detail en aankoop is versigtig oorweeg. Omdat hulle amper alles self gedoen het, het hulle baie gespaar en kon hulle die perfekte kafeestoele koop.

Hoe het julle binne jul begroting gebly?

Dit spaar baie geld as jy die meeste van die werk self doen. Só kon ons ’n bietjie meer bestee op unieke dekoritems en sagte elemente. Ons bespaar ook op elektrisiteit noudat ons LUD-ligte hier en in die res van die huis laat installeer het. Dit was elke sent werd.

Wat geniet julle die meeste van dié ruimte?

Ons eet die meeste van ons maaltye hier en geniet tapas, vonkelwyn of koffie saam met vriende.

Die afwerking
  • Rooi toonbank Caesarstone (083 608 5810, caesarstone.co.za)
  • Strooikussings Woolworths (0860 022 002 woolworths.co.za), etsy.com en Finer Furnishings (041 581 3136, finerfurnishings.co.za)
  • Oortreksel op bankie se kussing etsy.com
  • Tafels en stoele Kitchen Hardware (011 786 9983, kitchenhardware.co.za)
  • Muurteëls Ceramic Tile World (082 458 4633)
  • Rooi lig Selective Lighting (041 365 2636)